Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vrae oor vermiste Kapenaar dalk ná jare beantwoord
'n Kennisgewing oor John Naisby se verdwyning in 2012.

Die familie van John Naisby hoop om binnekort antwoorde te kry. 

Naisby, ’n afgetrede vlootingenieur van Tableview in Kaapstad het agt jaar gelede onder geheimsinnige omstandighede verdwyn, nadat hy ’n vrou op die internet ontmoet en vir haar gaan kuier het.

Die einste vrou is nou in hegtenis geneem vir die moord op ’n vriendin en ’n Britse burger wie se oorskot in Walkerville, Gauteng gevind is.

Naisby (83) het in 2012 spoorloos verdwyn nadat hy vir Zaheera Boomgaard, wat destyds as Zaheera Wookey bekend gestaan het, op die internet ontmoet en toe in Februarie daardie jaar vir haar in Johannesburg gaan kuier het.

Boomgaard, blykbaar in haar laat vyftigs, is vroeër vandeesmaand aangekeer, onder meer vir die moord op ’n vriendin, Lynette Mustapha, en ’n Britse burger, Harkant Nathvani (71), ná albei se verbrande lyke in Augustus in Walkverville, suid van Johannesburg, gevind is.

Benewens moord sluit die klagte teen Boomgaard ontvoering, diefstal en bedrog in, sê Lumka Mahanjana, ’n woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), by navraag.

Boomgaard het op 12 Oktober die eerste keer in die landdroshof in Vereeniging verskyn en sal Maandag om borgtog aansoek doen in dieselfde hof.

Nathvani was op besoek in Suid-Afrika en is die laaste keer in Februarie vanjaar by Parkstasie in Johannesburg gesien toe hy ’n bus gehaal het. Hy sou glo vir ’n vriendin in Newcastle in KwaZulu-Natal gaan kuier het. Hy het op 6 Maart die laaste keer kontak met sy familie gehad, volgens ’n kennisgewing van SA Community Cares oor sy verdwyning op Facebook.

'n Kennisgewing oor Harkant Nathvani se verdwyning vroeër vanjaar.

Die Carletonville Herald het berig die polisie se deurbraak volg nadat Mustapha aan haar vingerafdrukke uitgeken is en dit geblyk het sy is ’n vriendin van Boomgaard. Die ontdekking van haar oorskot het ook daartoe gelei dat Nathvani se oorskot gevind is. Hy is aan sy tande uitgeken.

Alida Heine, Naisby se stiefdogter, sê by navraag haar ma, Sinie, wat met Naisby getroud was, het sedert die gebeure agt jaar gelede baie agteruitgegaan en kan nie meer praat nie.

"Die tyd vir haar om afsluiting te kry is lankal verby."

Volgens Heine sal hulle egter steeds wil weet wat presies met Naisby gebeur het. Naisby het in Februarie 2012 skielik besluit om in Johannesburg te gaan kuier by ’n vrou ("Wookey") wat hy op die internet ontmoet het.

Kameras het hom saam met ’n Indiese vrou by die O.R. Tambo internasionale lughawe in Gauteng gewys, maar "Wookey" het later beweer sy het hom by ’n winkelsentrum afgelaai. Geld is ook destyds uit sy bankrekening onttrek.


Meer oor:  Vermis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.