Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vragmotorman langs pad deur ‘geregsnabootsers’ geskiet

’n Vragmotorbestuurder is Maandagaand in Port Elizabeth doodgeskiet, oomblikke nadat hy glo deur ’n groep kapers met glimbaadjies aan by ’n motor met ’n blou lig voorgekeer is.

Absalom Mnisi (53) se lyk is Dinsdag om 09:30 deur ’n motoris langs die N2-snelweg naby Coega, net buite Port Elizabeth, aangetref. Hy het skietwonde aan sy rug en nek gehad.

Die polisie staan Dinsdagoggend op die toneel langs die N2 naby Coega, net buite Port Elizabeth, waar die lyk van Absalom Mnisi aangetref is.

Die polisie se blitspatrollie-eenheid het reeds Maandagaand die gekaapte vragmotor in Perseverance, sowat 20 km van Coega af, teruggekry.

Mnisi het bykans R2 miljoen se koper vervoer en die polisie vermoed dié metaal was die rede vir die noodlottige kapingsvoorval.

Die vragmotor was Maandagaand van Port Elizabeth na Johannesburg onderweg, toe die bestuurder omstreeks 19:00 op die N2, naby Coega, voorgekeer is, sê kapt. André Beetge, polisiewoordvoerder.

Na verneem word, het die groep van sowat sewe mense glimbaadjies aangehad en langs ’n wit motor met ’n blou lig gestaan.

Die gekaapte vragmotor met bykans R2 miljoen se koper en ’n Mini Cooper-motor is Maandagaand deur die polisie se blitspatrollie-eenheid opgespoor.

’n Oudwerknemer van dieselfde vervoermaatskappy het toevallig verby die toneel gery en die maatskappy gekontak om te sê een van hul vragmotors is langs die pad afgetrek. Nadat die vragmotorbestuurder nie op sy selfoon bereik kon word nie, het die vervoermaatskappy die vragmotor se opsporingstoestel geaktiveer.

Beetge sê die blitspatrollie-eenheid het die opsporingstoestel omstreeks 20:00 tot by ’n verlate pakhuis in Makepeace-rylaan nagespoor. Met die polisie se aankoms het sewe mense probeer vlug, maar die polisie kon daarin slaag om vyf vas te trek.

Die vragmotor met ’n vrag van bykans 23 ton koper en ’n Mini Cooper-motor is vir ’n forensiese ondersoek deur die polisie in beslag geneem. Beetge sê die polisie het ook op ’n gehuurde wit Ford Ranger-bakkie, ’n blou lig, ’n glimbaadjie en ’n mobiele toestel beslag gelê wat seine blokkeer, asook sewe selfone wat vermoedelik gedurende die kaping gebruik is.

Volgens ’n ingeligte bron was die blokkeerder vermoedelik om die vragmotor se opsporingstoestel en selfoonseine omver te gooi. Die bron sê die polisie ondersoek ook die moontlikheid dat die kapers inligting ontvang het dat die vragmotor ’n waardevolle vrag sou vervoer en daarom die kaping beplan het.

Teen Dinsdagmiddag het die polisie steeds na die twee mans gesoek wat Maandagaand van die toneel af gevlug het.

Die vyf verdagtes van tussen 27 en 41 jaar oud sal binnekort op aanklag van die besit van gesteelde eiendom in die hof verskyn, terwyl die polisie hul moontlike betrokkenheid by die kaping en moord op Mnisi ondersoek.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Vragmotorbestuurder  |  Misdaad  |  Doodgeskiet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.