Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vriend moet huiswerker se man inlig sy sterf in huisroof

Terwyl Danie Wyser Woensdagaand in ’n spesialis-hospitaal behandel is vir die skietwond in sy skedel, moes sy goeie vriend sy huiswerker, Maria Sithole, se man inlig dat sy nie die aanval oorleef het nie.

Wyser (60) en Sithole (46), sy huiswerker, is die oggend deur ’n onbekende aantal aanvallers in Wyser se huis in Rietfontein, Pretoria, oorval.

Hul albei se hande en voete is vasgebind en albei is net agter die oor geskiet.

Peter Holmes, Wyser se vriend, het hulle net voor 11:00 gevind, vermoedelik minute nadat die aanvallers met Wyser se een voertuig by die huis weg is.

Daniel Wyser Foto: Facebook

Die huiseienaar het nog geleef waar Holmes hom op die badkamervloer aangetref het. Hoewel Wyser nie mooi kon hoor nie, kon hy praat en het hy vir Holmes gevra waar Sithole is.

Die vriend het haar vasgebind op die een slaapkamer se vloer gekry. “Sy het geen teken van lewe getoon nie,” het hy later gesê.

Netcare 911-paramedici het haar op die toneel dood verklaar voordat Wyser per helikopter hospitaal toe geneem is.

Die aanvallers het, sover bekend, net Wyser se voertuig en vuurwapens uit die kluis geroof. Sy en Sithole se fone was nog op die toneel, maar Sithole se foon was gesluit, wat beteken het niemand kon haar naasbestaandes kontak voordat ’n kundige dit kon ontsluit nie.

“Toe bel Maria se man gisteraand op Danny se foon, op soek na haar. En Danny se foon is by my. Ek moes haar man inlig dat sy vermoor is . . .” sê Holmes.

Met Wyser gaan dit onder die omstandighede “oukei”, het Holmes bygevoeg.

Die vriendekring het kontak deur middel van die enkellopende Wyser se suster, wat reeds Woensdag gereël het vir veiligheidsdienste by haar broer se huis, en Donderdag die slotte laat vervang het aangesien Wyser se huissleutels aan die geroofde voertuig se sleutels was.

“Die televisie, Danny se skootrekenaar, sulke goed, is nog daar. Dit lyk of net die inhoud van die kluisie, waarin die wapens vermoedelik was, gevat is,” het Holmes gesê.

Kapt. Kay Makhubele, polisiewoordvoerder, het Donderdag gesê hulle ondersoek ’n saak van moord, poging tot moord en roof met verswarende omstandighede. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Netcare 911-paramedici stabiliseer Daniel Wyser voordat hy per helikopter hospitaal toe geneem is. Foto: Netcare 911

Wyser se boerboelhond, wat Holmes Woensdag buite die erf se hek gekry het, is intussen na vriende geneem.

Lisa Louis, ’n buurvrou van Wyser, sê hoewel sy hom nie goed ken nie, was hy die soort buurman wat altyd gewaai het as hy haar sien.

“Ek weet hy bly alleen, maar hy was altyd baie vriendelik. Dit is so hartseer,” het sy gesê.

Sy het hardop na haar asem gesnak toe sy verneem dat Sithole dood is.

“Ek het Woensdag net voor 16:00 by die huis aangekom, die polisie gesien en gehoor daar was ’n rooftog. Woensdag om 02:00 het die alarm buite ons huis afgegaan, wat nooit gebeur nie. Dit was vreemd, maar ons het niks buite gesien nie.

“Nou hoor ek my buurman en sy werker is ’n paar ure later geskiet. Dis scary . . .” het sy grootoog bygevoeg.

Meer oor:  Pretoria  |  Huiswerker  |  Huisroof  |  Sterf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.