Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Vriendin’ vasgetrek ná moord op voorman

Nog mense kan moontlik binnekort in hegtenis geneem word weens die moord op ’n voorman vroeër vandeesmaand op ’n plaas in die Groblersdal-distrik in Limpopo.

Raymond Gregory Papapavlou (28) is in die middernagtelike ure van Sondag 4 Oktober of op Maandag 5 Oktober vroeg vyf keer geskiet waar hy op sy bed in die plaashuis gelê het.

’n 23-jarige vrou sal Donderdag in die landdroshof op Groblersdal op ’n aanklag van moord verskyn.

Die vrou is ’n nabye vriendin van Papapavlou se vrou, Simone.

Simone Papapavlou by haar man, Raymond (28), wat op ’n plaas buite Groblersdal in Limpopo doodgeskiet is. Foto: Facebook/RaymondPapz

Oudkol. Gawie Louwrens van Bosveld-misdaadondersoeke het in samewerking met speurders van die polisie in Limpopo en die Groblersdal-polisiekantoor die vrou Dinsdagmiddag in Kempton Park in hegtenis geneem.

Louwrens, wat voor sy bedanking uit die polisie vyf jaar gelede aan die stuur was van ’n spesiale taakspan wat ernstige geweldsmisdade ondersoek het, het die polisie ook gehelp met die ondersoek na die moorde op Hettie Deacon (79) en haar dogter, Lizette (55), van Polokwane in September.

Die 23-jarige vrou is by haar werkplek in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding.

Netwerk24 verneem die vrou het voorheen saam met die Papapavlou-egpaar in die Groblersdal-distrik gewerk voordat sy na Gauteng verhuis het.

Papapavlou is onder meer in sy rug en drie keer in sy regtersy geskiet. Hy het ook ’n skietwond aan die kop gehad. Dit lyk nie asof daar ’n struweling in die slaapkamer was nie.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, het kort ná die moord gesê volgens Simone het sy wakker geskrik toe vyf skote geskiet is.

Raymond Papapavlou (28) is op ’n plaas buite Groblersdal in Limpopo doodgeskiet. Foto: Facebook
Sonja Papapavlou by haar seun, Raymond (28), wat op ’n plaas buite Groblersdal vermoor is.

Sy het vroeër die aand op ’n bank in die woonkamer van die huis aan die slaap geraak. Papapavlou het toe reeds in die slaapkamer aan die slaap geraak.

Dit het ná die moord gelyk asof daar moontlik by ’n klein venster in die kombuis van die plaashuis ingebreek is.

Simone het glo ook beweer dat sy ’n vreemde motor in die week voor die moord naby die plaas gesien het. Die mense in dié gemeenskap het gemeen dit was ’n plaasmoord en was geskok.

’n Span forensiese en ballistiese kenners van die polisie in Pretoria het die toneel vir leidrade gefynkam.

Papapavlou was lief vir hengel en jag. Sy pa, George, het aan Isabel Venter gesê hy het op die plaas met sy eie skape geboer.

George het Woensdagmiddag op ’n navraag oor die inhegtenisneming aan Netwerk24 gesê “ek het niks vir julle te sê nie”, voordat hy die oproep beëindig het. Papapavlou se ma, Sonja, asook Simone, het nie hul selfone beantwoord of op navrae gereageer nie.

Simone en Papapavlou se Facebook-profiele is kort ná die moord gesluit.

Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, het gesê die 23-jarige vrou sal op ’n aanklag van moord in die landdroshof op Groblersdal verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.