’n Vrou is Dinsdag ten aanskoue van haar ma in ’n apteek in Joubertina, in die Oos-Kaap, vermoor.
Maritza van der Linde (43) is om 08:45 verskeie kere met ’n mes gesteek en is op die toneel dood verklaar. Haar 61-jarige ma, wat in die apteek in die hoofstraat van die dorp werk, is ook in haar onderlyf gesteek.
Kol. Sibongile Soci, Oos-Kaapse polisiewoordvoerder, sê in ’n verklaring die polisie het ’n 46-jarige man ná die voorval vir moord en poging tot moord in hegtenis geneem.
Volgens ’n ingeligte bron is die man aan albei vroue bekend.
Luidens die polisieverklaring het die man die apteek binnegestap en Van der Linde gegryp. Hy het die personeel na bewering beveel om die apteek te verlaat en Van der Linde na haar ma in ’n vertrek aan die agterkant van die apteek geneem.
“Die man het glo ’n mes uitgepluk en die ma in haar onderlyf gesteek. Die 43-jarige vrou is ook verskeie kere gesteek,” sê Soci.
Die polisie is ontbied en die man is om 09:05 in hegtenis geneem. Die polisie ondersoek die saak.