Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vrou (78) roep ure lank om hulp ná rooftog

’n 78-jarige vrou van Port Elizabeth het minstens ses uur lank vasgebind op gras gelê en om hulp geroep nadat sy deur rowers vasgebind is.

Ses rowers het die vrou Donderdag omstreeks 00:30 in haar woonstel in Charlo oorval. Sy het ná die rooftog uit haar woonstel gekruip in die hoop dat iemand haar noodkrete sal hoor.

Die polisie by ’n spoorlyn in Charlo, Port Elizabeth, waar van die gesteelde goedere van die bejaarde vrou teruggevind is. Foto: Lulama Zenzile

’n Tuinwerker van die woonstelkompleks het egter eers Donderdag ná 08:00 die vrou gehoor en tot haar redding gekom, sê kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder.

Volgens die polisie het die bejaarde vrou voor die televisie in haar woonstel aan die slaap geraak. Sy het kort ná middernag wakker geskrik weens geluide in die woonstel.

Ses onbekende mense het die woonstel binnekom.

Volgens die polisie se voorlopige ondersoek lyk dit asof die rowers ’n deel van die grensmuur onder die geëlektrifiseerde heining afgebreek het voordat hulle die slot van die woonstel se veiligheidshek oopgebreek het.

Vier mense het glo die vrou se huis vir waardevolle items deurgesoek, terwyl die ander twee haar dopgehou het.

“Die twee verdagtes het die vrou met ’n mes gedreig en inligting oor die kluis geëis.”

Nadat die rowers aanvaar het daar is geen kluis in die woonstel nie, het hulle die vrou met ’n tou vasgebind en met die gesteelde goedere gevlug.

Nadat die rowers weg is, het die slagoffer na die kombuis gekruip en toe na buite in ’n poging om hulp te kry, sê Janse van Rensburg.

Bykans dieselfde tyd dat die tuinwerker Donderdagoggend op die vrou afgekom het, het ’n buurman van die slagoffer ook besef die vrou is in nood.

Volgens Monty Montgomery, bedryfshoof van Atlas Security, het hulle op dié buurman se paniekknoppie gereageer en die slagoffer by haar huis aangetref waar sy deur mense van die woonstelkompleks gehelp word.

Die televisie wat in die rooftog gesteel is, is in dié pienk kombers toegedraai. Foto: Lulama Zenzile

Benewens vir die bloukolle op haar arms van haar elmboë tot by haar gewrigte en etlike klein snye op haar hande, is die vrou vir skok behandel.

Terwyl die polisie Donderdagoggend die woonstel vir leidrade gefynkam het, het hulle inligting gekry van ’n groep mense wat by die spoorlyn oorkant die Charlo Primary School goedere na ’n bakkie in die straat dra.

Montgomery sê ooggetuies het ’n wit bakkie sien wegjaag. Daar was drie mans in die bakkie wat ooreenstem met die beskrywing van sommige van die rowers by die bejaarde vrou se huis.

“Ons het die gebied deurgesoek en ’n platgetrapte deel in die grasveld gesien. Daar naby het ons op ’n televisie, DVD-speler ensovoorts afgekom,” sê Montgomery.

Volgens hom lyk dit asof die rowers die buit van die vrou se huis langs die treinspoor versteek het terwyl hulle vir vervoer gewag het.

Janse van Rensburg het bevestig die polisie het van die slagoffer se gesteelde goedere teruggevind. Niemand is egter al in hegtenis geneem nie.

Die Mountweg-polisiegebied se misdaadtaakspan het Donderdag ’n beroep op die gemeenskap gedoen om met inligting na vore te kom wat moontlik tot enige inhegtenisnemings kan lei.

Enigeen met inligting kan kapt. Chris Rowan by 082 442 1457 bel.

Meer oor:  Atlas Security  |  Charlo  |  Port Elizabeth  |  Polisie-Ondersoek  |  Misdaad  |  Rooftog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.