Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vrou (80) wat in Lesotho afgelaai is, reeds uit hospitaal

Daleen van der Hoven (80), wat verlede Vrydagoggend deur vier aanvallers op haar plaas, Wanatha, in die Zastron-distrik aangerand en na Lesotho ontvoer is, is uit die hospitaal ontslaan.

Lize du Plessis van Bloemfontein sê haar ma sterk by haar in haar huis aan, nadat sy Saterdag ontslaan is ná ’n week in die Life Rosepark-hospitaal. Sy was ses dae lank in die hoësorgeenheid en nog ’n dag in die gewone saal.

Die erg beseerde Van der Hoven is die nag van haar aanval in ’n temperatuur van -5 °C in Lesotho afgelaai. Sy was kaalvoet in haar nagklere en sonder ’n bril en het oor klippe en ruwe veld gestruikel om hulp by ’n hut te gaan soek.

Haar aanvallers het haar Audi, waarmee hulle oor die grens gevlug het, sowat 2,5 km van die plek waar hulle haar afgelaai het, uitgebrand toe dit volgens een van hulle wat intussen in hegtenis geneem is, “nie meer verder wou ry nie”.

Du Plessis sê haar ma se dokter, ’n neuro-chirurg van Bloemfontein, het voordat sy ontslaan is, gesê “sy is ’n ystervrou en ’n regte dapper Voortrekkervrou”.

“Hy het nog nooit iemand gesien wat op haar ouderdom so sterk en so moedig asook ’n inspirasie vir almal in die hoësorg-eenheid was nie.”

Du Plessis sê 80% van haar ma se breinbloeding is opgeklaar en skanderings sal weer oor drie weke gedoen word.

Hy het nog nooit iemand gesien wat op haar ouderdom so sterk en so moedig asook ’n inspirasie vir almal in die hoësorg-eenheid was nie.
Die ystervrou, Daleen van der Hoven (80) van die Zastron-distrik, wat deur haar plaasaanvallers in Lesotho gelos is, sterk by haar dogter in Bloemfontein aan. Foto: Verskaf

Sy is in haar slaapkamer oor die kop geslaan toe die aanvallers geld geëis het. Hulle het weggekom met ’n paar duisend rand kontant, waardevolle familiejuwele wat erfstukke was en drie gewere van haar pa, wyle Naas van der Hoven, ’n Springbok-skut.

Die vier aanvallers, almal vermoedelik Lesotho-burgers, het met haar op die agterste sitplek van haar motor oor die grens gevlug. Nadat hulle haar weer aangerand het, moes sy die laaste stuk van die pad self bestuur omdat hulle glo gesukkel het om die motor bestuur.

Du Plessis sê twee mans met misdaadrekords in Suid-Afrika is deur die Lesotho-polisie in verband met die voorval in hegtenis geneem. Een het reeds weer ontsnap en is voortvlugtend.

Die polisie soek na drie mans, almal vermoedelik in Lesotho.

Du Plessis sê haar broer, Wally van der Hoven, wat saam met haar ma op die plaas bly, en wat ook sy eie boerdery op nabygeleë plase hanteer, het intussen alles in sy vermoë gedoen om die veiligheid op die plaas op te skerp en om die polisie te help om leidrade op te volg om die misdadigers vas te trek.

Van der Hoven was nie op die plaas toe sy ma aangeval is nie.

Du Plessis sê haar ma sê sy glo absoluut in die beskerming van die Hoër Hand en dat alles net genade was.

“Die blou swellings in haar gesig lyk ook al aansienlik beter.”

Van der Hoven het ná die aanval 17 uur lank in die ongevalle afdeling van die Life Rosepark-hospitaal gelê. Sy is eers vir Covid-19 getoets en moes op die uitslag wag voordat sy in die hoësorgeenheid van die hospitaal opgeneem kon word.

Sy sê sy het uitstekende behandeling in die hospitaal ontvang.

Meer oor:  Daleen Van Der Hoven
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.