Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vrou fnuik kaping – slagoffer vertel
Cobie Roux (64) het met haar wit Mercedes-Benz skuins voor Leon Botha (64) se motor ingetrek sodat die kaper nie met die voertuig kon wegry nie. Foto: Facebook/Dowry Group

As dit nie was vir Cobie Roux (64) wat met haar voertuig dwars voor sy wit Mercedes-Benz stilgehou het nie, was die kanse goed dat die motorkapers daarmee sou wegkom.

Cobie Roux (64) van Krugersdorp kort nadat sy Maandag ’n motorkaping in Roodepoort voorkom het. Foto: Verskaf

Maar vir Leon Botha (64), ’n sakeman van Krugersdorp, gaan dit nie oor die voertuig nie, want dit kan hy vervang, sê hy.

“Sy het instinktief opgetree om iemand te help wat aangeval word. Net daardie gebaar is vir my groter as die waarde van die voertuig.

“Haar dapperheid was net instink. Sy is ’n baie spesiale mens.”

Roux, ook van Krugersdorp, het Botha Maandag omstreeks 11:30 te hulp gesnel toe hy op Hendrik Potgieter-rylaan in Roodepoort in die nood verkeer het.

Sy het ’n struweling tussen Botha en ’n ander man langs die pad gesien toe sy op die ingewing van die oomblik besluit het om in te gryp.

Roux het vroeër aan Netwerk24 gesê haar enigste doel was om Botha te help omdat sy vermoed het dat hy in ’n voorval van padwoede aangerand word.

Sy het uiteindelik ’n motorkaping gefnuik en een verdagte is in hegtenis geneem.

Die voorval het gebeur toe Botha Maandag op pad terug was na sy kantoor nadat hy van die Mercedes-Benz-handelaar in Constantiakloof afgekom het.

“In Hendrik Potgieter-rylaan het ’n voertuig redelik naby aan my gery. Ons het langs mekaar gery en die ouens het gevra dat ek aftrek,” sê hy.

Toe hulle hom vang, het dit gelyk asof die hele Gauteng se frustrasies op hierdie ou uitgehaal word.
Slagoffer

Botha het met sy wit Mercedes-Benz binne die geel streep aan die linkerkant van die pad oorkant die Hillfox-sentrum stilgehou.

Hy het gedink dat daar dalk fout met sy voertuig is en dat die mense in die silwerkleurige Toyota hom daarop wou wys. Die mans het ook eerder vir hom soos speurders as motorkapers gelyk, sê Botha.

Die Toyota het sowat 5 m verby hom gery, waarna ’n man na hom aangestap gekom het.

“Ek het my venster so halfpad oopgedraai. Die man het vorentoe geleun en die venster heeltemal afgedraai,” sê Botha.

“Hy het gesê hy is van die polisie en het my ’n vraag gevra. Daarna het hy die motorsleutels gegryp.”

Botha het die man se arm deur die venster gegryp en dit rondgepluk.

“Hy het vir my geskreeu dat hy my gaan skiet en gemaak of hy in sy linkerbroeksak na ’n vuurwapen soek. Terselfdertyd het ’n tweede man aangehardloop gekom en die deur aan die bestuurderskant oopgepluk.”

Terwyl Botha se greep nog om die een voornemende kaper se arm was, het sy makker hom uit die voertuig getrek. Die man met die motorsleutels het toe agter die stuurwiel ingeklim en die ander een het om die motor gehardloop en by die passasierskant ingeklim.

leon botha
Leon Botha (64) is Maandag byna gekaap, maar toe kom Cobie Roux (64) tot sy redding. Foto: Verskaf

“Toe gryp ek weer die bestuurder se arm van buite af. Hy kon nie bestuur nie, want ek het sy een arm beet en met die ander arm probeer hy ratte verwissel,” verduidelik Botha.

“Hy kon daarin slaag om so een of twee meter vorentoe met die voertuig te ry.”

Dit is toe dat Roux haar verskyning maak het en met haar wit Mercedes-Benz skuins voor Botha s’n stilgehou het.

“Sy was regtig ’n engel met haar dapperheid,” sê Botha.

“Dit het veroorsaak dat die man nie verder kon ry nie. Cobie se optrede het my toe tyd gegee om die ou besig te hou sodat hy nie kon ry nie.”

Botha het deurentyd die man se arm vasgehou en dit “agtertoe en af gebuig” terwyl die kaper die motor in trurat probeer kry het. Hy kon nie daarin slaag nie en het uitgeklim en toe Roux se voertuig probeer kaap, maar ook nie daarin geslaag nie.

Die kaper wat op die passasiersitplek in Botha se voertuig gesit het, het intussen uitgespring en weggehardloop.

Die ander een het Roux met die vuis geslaan en ook probeer vlug, maar ’n groep omstanders het hom agternagesit.

“Toe hulle hom vang, het dit gelyk asof die hele Gauteng se frustrasies op hierdie ou uitgehaal word,” sê Botha.

Die polisie en veiligheidsmaatskappye was kort daarna op die toneel en die man is in hegtenis geneem.

Kapt. Kay Makhubele, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval vroeër bevestig en gesê ’n 26-jarige man is in hegtenis geneem.

Die kapers het Botha se selfoon gebuit, en buiten ’n paar skraapmerke het hy nie seergekry nie.

Hy loof die polisie vir hul “puik hantering van die saak tot dusver”.

Botha se raad aan ander is: “Jy stop vir niemand nie, selfs al het jy ’n pap band.”

Meer oor:  Krugersdorp  |  Vrou  |  Kaping  |  Slagoffer  |  Kapers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.