Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vrou geteister – in polisieselle gegooi

’n Vrou van Deneysville in die Noord-Vrystaat het ’n ou polisie-uniform van haar oorlede dogter opgesny en daarmee maskers vir dié se kollegas gemaak.

Amanda de Goede

Maar verlede Vrydag het ’n polisievrou wat een van dié maskers gekry het, haar wederregtelik in die selle gestop en geëis dat sy ’n diefstalklag teen haar huiswerker terugtrek, vertel Amanda de Goede (56).

Sy het Vrydag steeds gehuil terwyl sy oor die voorval gepraat het.

Die huiswerker en haar broer werk die afgelope vier jaar vir De Goede. Hul ouers het tot agt jaar gelede ook vir haar gewerk.

Verlede Vrydagoggend het die sibbe gereed gemaak om vir die naweek weg te gaan.

De Goede het gesien hoe die man sukkel om ’n oorvol tas toe te kry.

Sy het snuf in die neus gekry en daarop aangedring dat hy haar wys wat in die tas is. In die tas was van De Goede se oorlede dogter, Nevilene, se klere en ander persoonlike items.

De Goede het die polisie ontbied. Die huiswerker het volgehou De Goede het die besittings drie jaar gelede vir haar gegee.

De Goede sê ’n vrouespeurder wat in ’n wit dubbelkajuitbakkie by haar huis aangekom het, het gesê sy gaan haar (De Goede) ook in hegtenis neem omdat sy ’n onwettige immigrant huisves.

Die man, ’n Zimbabwiër, was ’n kuiergas van haar werknemers. Later is vasgestel die man is wel wettig in die land.

De Goede, die mans en die vrou is agter in die vangwa gelaai. Sy, die vrou en die Zimbabwiër is in die selle geprop.

“Ek is sonder ’n masker of handontsmetmiddel by my huis uit en ek is daarsonder aangehou. Ek moes ook my selfoon by die huis los.”

Meer as ’n uur later het die vrou teruggekeer met ’n dokument wat De Goede moes onderteken dat sy nie weer ’n saak sal indien nie.

De Goede en die werker is by De Goede se huis afgelaai, waarna sy en haar broer vort is.

Die organisasie Patriot vir Minderhede staan De Goede by en gaan ’n klag by die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) indien. Hulle beplan ook strafregtelike en siviele stappe.

Marius Coertze, hoof van regsake van dié organisasie, sê: “Die reg tot vryheid is jou grondwetlike reg. Die polisie minag absoluut die reg op vryheid.”

Coertze meen dis ’n nagmerrie om saam met ’n klomp gevaarlike mense in ’n polisiesel aangehou te word.

“As die polisie te veel mag kry, raak hulle klein diktators en drakonies.”

Nevilene, wat 18 jaar in die polisie was, is in Oktober 2019 dood. Sy het brein- en lewerkanker gehad.

Rapport het in Desember berig nie ’n sent van haar pensioengeld is nog uitbetaal vir die versorging van haar twee kinders nie.

Dit het nog nie gebeur nie.

De Goede sê sy sukkel om haar dogter se dood te verwerk.

Vroeër in die inperking het sy een van haar dogter se ou polisie-uniforms opgesny en 60 maskers gemaak wat sy aan die polisiekantoor in Deneysville geskenk het.

“Dit was met die wete dat dit is wat my dogter sou wou gehad het. Die speurder was een van die mense wat ’n masker gekry het.”

De Goede se huisdokter het ná die voorval posttraumatiese stresversteuring by haar gediag­noseer.

Netwerk24 het Dinsdag berig die Vrystaatse provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Baile Motswenyane, het ná die voorval opdrag gegee dat die beweerde teistering ondersoek word.

Meer oor:  Polisie  |  Huiswerker  |  Diefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.