Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vrou hoor magteloos oor foon hoe ma aangerand word

’n Vrou van Bloemfontein moes geskok en hulpeloos oor die selfoon luister hoe ’n man – vermoedelik haar buurman in die huis waarin die ma ’n kamer huur – op haar ma skree en haar begin aanrand voordat die verbinding verbreek is.

Engela Brink
Engela Brink (62) is Vrydag laatmiddag aangerand deur ’n man wat saam met haar in ’n huis in Shannon, buite Bloemfontein, bly. Foto: Verskaf

Brenda Prinsloo (37), van Oranjesig, Bloemfontein, is boonop geskok en ontnugter deur die weiering van die polisie om dadelik te reageer toe hul hulp gevra is, en oor die swak diens wat haar ma, Engela Brink (62), in die Pelonomi-hospitaal ontvang het.

Prinsloo sê terwyl sy Vrydag moes hoor hoe haar ma, wat weens chroniese obstruktiewe longsiekte nie sonder ’n suurstofsilinder oor die weg kan kom nie, aangerand word, het haar ma se selfoon doodgegaan.

Iemand het haar toe gebel. “Jy beter kom. Jou ma se kop is oop en daar is baie bloed,” het die persoon gesê.

Die voorval het omstreeks 17:00 gebeur.

Prinsloo en haar man, Marius, het dadelik na Shannon, buite Bloemfontein, gejaag waar hulle haar ma bebloed in die huis in Kendalstraat gekry het.

“Jy ervaar soveel angs. Jy weet nie wat aangaan nie en is hulpeloos. Dit is erg traumaties,” sê sy.

Volgens Prinsloo huur haar ma en die vermeende aanvaller kamers in die huis en bly hulle langs mekaar.

Van die mense wat Vrydag op die toneel was, het die man in ’n kamer toegesluit terwyl hulle op die polisie gewag het.

“Hy vloek en dreig my ma gereeld. Om dinge te vererger het die polisie eers sowat drie uur en 30 minute later opgedaag nadat my man drie keer by die polisiekantoor was om hulle te vra om na die huis te kom. Die polisiekantoor is sowat vyf minute se ry weg van die toneel.

“Die ambulans het ook eers 19:53 opgedaag nadat hulle kort ná die voorval gebel is.”

Die volgende oggend het die Pelonomi-hospitaal Prinsloo gebel en aan haar gesê haar ma word ontslaan.

“Haar sleutelbeen is gebreek, sy het ’n hou teen die kop weg en is orals blou. Sy kon nie beweeg nie, maar hulle het gesê dit is nie hulle probleem nie, ons moet haar kom haal,” sê Prinsloo.

Haar ma kon nie Saterdag ophou braak nie en hulle het haar na die Nasionale Hospitaal gebring, waarna sy later weer na Pelonomi oorgeplaas is.

Sy is nou in ’n stabiele toestand en X-strale en skanderings sal gedoen word om te bepaal hoekom sy nie kan beweeg nie.

“Daar is nie woorde om te beskryf hoe kwaad ek is oor die swak diens nie. Ek is woedend. Die polisiekantoor is sowat 1 km weg van my ma se huis af, maar hulle wou nie uitkom nie. Hulle het nie eens gedink aan ons veiligheid met die man steeds in die huis nie.

“Dit is verskriklik wat met my ma gebeur het. Sy kan nie eens tien treë gee nie, dan is sy uitasem. Wat besiel ’n man om so ’n vrou aan te rand?”

Prinsloo sê haar man was drie keer by die polisiekantoor, maar beamptes het gesê hulle is besig om skofte te ruil en met ander goed, so hulle kon nie dadelik uitkom nie.

Ao. Loraine Earle, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig die man is aangekeer en sê hy sal na verwagting Maandag in die hof verskyn.

Sy het gesê brig. Dingiliswe Fothoane, stasiebevelvoerder van die Bloemspruit-polisiekantoor, sê die Prinsloos kan hom kontak as hulle klagtes het oor die diens van die beamptes.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Aanranding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.