Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vrou in eie motor ontvoer, om die beurt verkrag

Met haar gesig met ’n kussingsloop toegemaak, is ’n 27-jarige vrou van Port Elizabeth vir bykans ses uur lank aangehou en herhaaldelik verkrag deur twee mans wat haar in haar eie motor ontvoer het.

Die vrou is na bewering Dinsdag omstreeks 23:00 in haar huis in die NU 4B-woonbuurt in Motherwell deur twee gewapende mans oorval.

Kapt. André Beetge, polisiewoordvoerder, sê die vrou was aangeval kort nadat sy by haar huis aangekom het.

Die vrou, wat binne haar huis was, het ’n paar minute later geluide buite gehoor en ondersoek gaan instel, waar sy die twee onbekende mans by haar Hyundai Grand i10-motor sien staan het.

“Toe die onbekende mans op haar afpyl, het die vrou haarself dadelik in die huis gaan toesluit, maar hulle het die deur oopgeskop,” sê Beetge.

Hulle het blykbaar die vrou vasgebind, voor hulle ’n kussingsloop oor haar gesig getrek het. Die twee mans het die vrou in haar eie motor ontvoer en na ’n onbekende bebosde gebied geneem, waar sy om die beurt deur die mans verkrag is.

Hierna het die mans die vrou na haar huis teruggeneem en die huis vir waardevolle items deursoek.

Beetge sê die mans het omstreeks 05:00 met ’n televisie, kos, ’n selfoon en ander persoonlike besittings van die vrou in haar motor gevlug.

Die vrou het daarin geslaag om haarself los te maak en na ’n vriend se huis gehardloop, waar die polisie gekontak is.

Die polisie het Woensdag omstreeks 10:30 haar motor in Ngomastraat in die NU9-woonbuurt opgemerk.

“’n Kort jaagtog het gevolg, waarna die bestuurder by die motor uitgespring en tussen die naby geleë huise ingehardloop het om die polisie te ontwyk.”

Beetge het Donderdag gesê nog niemand is in verband met die voorval in hegtenis nie en die motor sal deur forensiese kenners ondersoek word.

Volgens Beetge was ’n 40-jarige vrou in ’n onverwante voorval, vroeër daardie Dinsdagaand in Motherwell, ook verkrag.

In dié voorval was die slagoffer omstreeks 18:00 in ’n taxi van Wells Estate na Zwide onderweg toe die taxibestuurder van die pad afdraai en aanvoer hy moet nog passasiers oplaai.

Die taxibestuurder het egter by ’n bebosde gebied ingery, die vrou met ’n mes gedreig en haar verkrag. Die vrou is ná die verkragting in die bosse agtergelaat, waarna sy hulp by ’n naby geleë onderneming gaan vra het.

Beetge sê ook in die geval was niemand teen Donderdag aangekeer nie.

Enigeen met inligting oor die twee voorvalle, kan kapt. Michael Shannagen by 082 779 7292 bel.

Meer oor:  Hyundai Grand I10  |  Motherwell  |  Port Elizabeth  |  Misdaad  |  Rooftog  |  Verkragting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.