Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vrou in hegtenis na dodelike rooftog by DRDGold

Die polisie het ná ’n grootskaalse soektog ’n vrou in hegtenis geneem nadat minstens 20 gewapende verdagtes Maandagaand DRDGold se Ergo-aanleg naby Brakpan aan die Oos-Rand beroof en ’n veiligheidswag doodgeskiet het.

Hulle het glo 17 kg goud ter waarde van sowat R12 miljoen gesteel.

Lees DRDGold se verklaring oor die voorval hier.

Brig. Mathapelo Peters, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die groep verdagtes het toegang tot die myn verkry, die vragmotorbestuurders gevange gehou en die ingang versper.

“’n Skietery het tussen die verdagtes en veiligheidswagte by die myn uitgebreek, waartydens een van die veiligheidswagte doodgeskiet is,” sê Peters.

Netwerk24 het vroeër berig Bart Coetzee, hoofveiligheidswag, is doodgeskiet.

Peters sê die verdagtes het glo toegang tot die gebied gekry waar die goud gesmelt word en die goud, wat in die houers was, gesteel.

“Die polisie is ontbied, maar omdat die toegang tot die myn versper is, moes die polisielede te voet na die toneel loop. ’n Skietery het uitgebreek toe die polisielede op die toneel aankom. Niemand is tydens dié skietery in hegtenis geneem nie. Die verdagtes het daarin geslaag om weg te kom,” sê Peters.

Die Ergo-mynbedrywighede. Foto: DRDGold
DRDGold

Die verdagtes het met ’n wit Isuzu-afleweringsvoertuig en ’n Toyota Quantum, wat aan die myn behoort, gevlug.

Peters sê die polisie het onmiddellik met ’n ondersoek begin en het die voertuie later gevind.

Die polisie het ’n vrou Dinsdagaand in hegtenis geneem nadat hulle goud in haar besit gevind het.

Peters sê die polisie het ook nommerplate, mandjies, emmers met goue poeier en grawe by ’n huis in Brakpan gevind nadat hulle die goud by die vrou gekonfiskeer het.

Peters het ’n beroep op die publiek gedoen om die Brakpan-polisiekantoor by 011 744 7100 of Stop Misdaad by 08600 10111 te bel as hulle enige inligting oor die voorval het.

Sy waarsku dat mense nie die verdagtes self moet konfronteer nie omdat hulle gewapen is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.