Die polisie het beslag gelê op bykans R700 000 se medikasie toe hulle ’n vrou in Molteno vasgetrek het wat na bewering as dokter gepraktiseer het sonder die nodige lisensie.
Die Oos-Kaapse polisie sê die 40-jarige vrou het minstens twee jaar lank gepraktiseer.
Die polisie het in September inligting ontvang dat die vrou nie by die Raad op Gesondheidsberoepe (RGB) van Suid-Afrika geregistreer is nie, maar steeds medisyne aan pasiënte gee.
Luidens die polisie se verklaring het die RGB ’n verklaring verskaf wat die aantygings staaf, waarna ’n klopjag by die praktyk uitgevoer is. Die polisie en lede van die Suid-Afrikaanse reguleringsowerheid vir gesondheidsprodukte (SAHPRA) het vasgestel die vrou is wel besig om te praktiseer, waarna sy Donderdag in hegtenis geneem is. ’n Man (30) wat as ’n assistent gewerk het en vermoedelik die vrou se vriend is, is ook aangekeer.
Albei sal binnekort in die landdroshof in Komani verskyn op aanklagte van bedrog en die oortreding van die wet op medisyne.