Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vrou in kruisvuur doodgeskiet, inwoners ruk op

Die Gautengse regering het die inwoners van Alexandra gevra om kalm te bly nadat ’n omstander in ’n skietery tussen die polisie en ’n verdagte doodgeskiet is.

Lede van die gemeenskap glo Samantha Radebe (31) is in die voorval deur ’n polisiebeampte doodgeskiet, maar die owerhede sê dit is nog te vroeg om te sê wie vir haar dood verantwoordelik is.

’n Tweede omstander is gewond en is in die hospitaal opgeneem.

Gemeenskapslede het intussen na die polisiekantoor in Alexandra opgeruk om op antwoorde aan te dring. Die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek die voorval.

Faith Mazibuko, Gautengse LUR vir gemeenskapsveiligheid, het Vrydag in ’n verklaring ’n beroep op gemeenskapslede gedoen om kalm te bly totdat Opod sy ondersoek voltooi het.

“Totdat daar bepaal word deur wie se vuurwapen Radebe doodgeskiet is, versoek ek die gemeenskap om terug te staan,” sê Mazibuko.

Kapt. Stephen Malatji, polisiewoordvoerder, sê die skietvoorval het Woensdag om 18:30 gebeur toe polisiebeamptes patrolliewerk in Leninstraat gedoen het. Die beamptes het ’n motor opgemerk wat vroeër die dag by ’n Gautrein-stasie gekaap is.

“Die polisie het die motor probeer voorkeer, maar die insittende het sy vuurwapen uitgepluk en na die polisie begin skiet, wat teruggeskiet het,” sê hy.

’n Man (29) is in hegtenis geneem en sal later in die landdroshof in Wynberg verskyn.

Mazibuko het bevestig dat die betrokke polisiebeamptes se vuurwapens by hulle afgeneem is en dat dit vir ballistiese toetse gestuur sal word.

Sy het haar medelye teenoor Radebe se familie uitgespreek. “My hart is met haar familie, haar eggenoot en die jong kinders wat sy agterlaat. Ek wil ook die man in die hospitaal ’n vinnige herstel toewens,” sê Mazibuko.

Meer oor:  Alexandra  |  Johannesburg  |  Betoging  |  Opod
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.