Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vrou in stukke: Só lyk verdagte

Die 24-jarige seun van ’n Kaapse advokaat verskyn Maandag in die hof in Bell­ville op aanklag dat hy ’n 32-jarige vrou vermoor en toe haar lyk in stukke opgekap het.

Kyle Ruiters kort nadat hy gearresteer is.

Kollegas van Lynette Volschenk, ’n vrou wat hulle beskryf as “ ’n regte sweetheart”, het haar vermeende moordenaar in haar woonstel gekry waar hy blykbaar besig was om die bloedbesmeerde mure te verf.

Hulle het die polisie ontbied en hy is op die toneel in hegtenis geneem.

’n Onberispelike bron het die verdagte geïdentifiseer as die 24-jarige Kyle Ruiters, ’n oudleerling van Wynberg Boys’ High, een van die Kaap se top-skole.

Sy ma, adv. Theresa Ruiters, is ’n lid van die Kaapse balie.

‘Die man was hoog op iets, dalk dwelms.’

Sy spesialiseer in die strafreg. In die vroeë 2000’s was sy die regsverteenwoordiger van Adam Woest, een van twee mans wat skuldig bevind is aan die moord van nege mense by Sizzlers, ’n gay-masseerklub in Kaapstad.

Volgens regsverslae het adv. Ruiters en haar seun albei in Seesig nommer 911 gebly, ’n feit wat deur een van hul bure bevestig is.

Adv. Ruiters het Saterdag ferm dog beleef op Rapport se navrae gereageer en gesê die familie gaan geen kommentaar lewer nie aangesien daar ’n polisieondersoek aan die gang is.

Vermoor: Lynette Volschenk (32)

Lynette Volschenk het op die tiende verdieping van die Seesig-woonstelle – ’n bekende baken langs die N1 in die rykmansbuurt Loevenstein – gebly.

Sy is Woensdag laas lewend gesien. Bure het wel Woensdagaand gehoor hoe iemand gil, gevolg deur kapgeluide, maar nie verder ondersoek ingestel nie.

Nadat sy Donderdag nie opgedaag het by Lyners Engineers, waar sy as ’n tegniese tekenaar gewerk het nie, het twee van haar kollegas en haar suster haar gaan soek.

“Sy was ’n persoon van roetine,” vertel ’n kollega wat nie haar naam genoem wou hê nie.

Die polisie se forensiese span in Lynette Volschenk se woonstel. Foto: Edrea du Toit

“Toe sy nie opdaag nie, het die ontvangsdame daarop aangedring dat ons haar gaan soek.”

Sy sê toe haar manskollegas met haar suster by die woonstel kom, het hulle onraad vermoed en besluit om die deur oop te breek.

“Hulle het op ’n man afgekom wat besig was om ’n muur te verf waarop daar glo bloed was. Hy het toe aan hulle gesê dat Lynette hom gevra het om die woonstel skoon te maak.”

Kort daarna het hulle op sommige van Lynette se opgekapte liggaamsdele afgekom.

“Die man was hoog op iets, dalk dwelms,” het die kollega vertel.

Hy is omstreeks 10:30 op die toneel in hegtenis geneem.

Die 24-jarige by die polisie buite die Seesig-woonstelle.

“Ons is baie getraumatiseer. Ly­nette het nie baie vriende gehad nie, maar haar kollegas was haar familie . . . Sy was ’n regte sweetheart. Sy het dit nie verdien nie.”

Rapport verstaan die verdagte het Lynette se lyk opgekap en dan stuk vir stuk in swart sakke uit haar woonstel na sy eie op die negende verdieping gedra.

Inwoners sê nadat die polisie hom gearresteer het, het hulle gesien hoe hulle hom na ’n toesluitmotorhuis in die kompleks neem waar hy sy klere moes uittrek wat toe in forensiese sakke geplaas is.

Hy is toe een van die polisie se blou forensiese oorpakke gegee om aan te trek voordat hy weggeneem is.

Volgens gerugte het die polisie Vrydag nog vermiste liggaamsdele in ’n plastieksak op ’n oop ruimte langs die gebou gevind. Rapport kon nie dié gerug bevestig nie.

Daar bestaan ook blykbaar kringtelevisiemateriaal van die vermeende moordenaar wat Lynette na haar woonstel volg en dan die deur agter hom toemaak.

Nog ’n inwoner, wat nie geïdentifiseer wou word nie, sê sy het die verdagte van nommer 911 gereeld in die gebou raakgeloop.

Hy was altyd alleen en het altyd ’n reguit paadjie van die hysbak na sy woonstel gevolg – wat aan die teenoorgestelde kant van die woonstelblok was as wat sy en Lynette Volschenk gebly het.

Onlangs het sy egter opgemerk dat hy dikwels aan hulle kant van die gebou kom.

“Ek het dit vreemd gevind. Dit sou op ongereelde tye van die dag wees.”

Volgens nog ’n inwoner het sy die verdagte gereeld gesien wanneer hy op pad is om te gaan oefen.

“Hy het altyd met oorfone op gedraf. Soms kon jy sy six pack onder sy hemp sien.”

Volschenk se ma, Jeanette, het uit Velddrif aan Rapport gesê hulle weet “net so min soos die koerant” oor die gebeure.“ Dis ’n hartseer storie. Ons wil dit nie graag verder bespreek nie.”

  • In Mei vanjaar is daar ook ’n lyk in die woonstel op die 12de verdieping van die aangrensende Tafelsig-woonstelkompleks gevind.

Dié lyk, van die 65-jarige Anthony Marais, is ontdek nadat ’n buurman ondersoek ingestel het waarom Marais se TV dag en nag kliphard speel.

Marais was vasgemaak aan ’n stoel. Daar was geen sigbare beserings nie en die media het destyds bespiegel dat hy aan ontbering dood is. Niemand is nog in verband met sy dood in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  Lynette Volschenk  |  Kyle Ruiters  |  Moord  |  Seesig-Grumoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.