Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Ma geskiet, toe kom die baba

’n Vrou van Middelburg het slegs enkele ure nadat sy en haar kêrel deur rowers aangeval en geskiet is die lewe geskenk aan hul seun.

Bloed in die voertuig nadat Christo Mulder, sy meisie, Renske Erasmus (31), en hul kinders na die Life Midmed-hospitaal op Middelburg gejaag het. Foto: Verskaf

Renske Erasmus (31) se seuntjie is Saterdag met ’n noodkeisersnee in die lewe gebring in die Life Midmed-hospitaal terwyl die koeël nog in haar rug vasgesit het.

Sy en haar kêrel, Christo Mulder (38), is die vorige aand oorrompel deur drie gewapende rowers.

“Dit is oor en oor net genade . . . elke keer is my seuntjie se lewe gered,” sê Renske.

Dit is hul eerste kind saam en albei se eerste seuntjie.

Sy naam is Fourie, maar hy sal binnekort ’n tweede naam kry “omdat hy van geboorte af al ’n vegter is”.

Dokters het besluit om Renske te stabiliseer en nie dadelik te opereer nie, vir Fourie se veiligheid.

Sy was al net bietjie meer as 36 weke swanger en dit het nie dadelik gelyk of Fourie in enige gevaar is nie.

Renske het net-net aan die slaap geraak toe haar water breek.

Die noodkeisersnee is net betyds gedoen, want Fourie se koppie het reeds deur die baarmoeder geskeur.

“Die dokters het vir my gesê as daar langer gewag is, sou hy dit nie gemaak het nie . . . so hy is twee keer gered. Dit is net absolute genade,” sê Renske.

Renske Erasmus is in die voertuig raakgeskiet. Foto: Verskaf
Die dokters het vir my gesê as daar langer gewag is, sou hy dit nie gemaak het nie . . . so hy is twee keer gered. Dit is net absolute genade.

Fourie het by geboorte ’n gesonde 3,6 kg geweeg en was 50 cm lank.

Ma en seun sterk goed aan, sê Renske.

Die paartjie was Vrydag saam met Renske se dogtertjie (9) en Christo se twee dogtertjies (4 en 7) op pad om vir vriende op hul plaas in die Delmas-omgewing te gaan kuier. Die meisies se name word weerhou op versoek van hul ouers.

Net ná die Middelburg-tolhek het hulle afgedraai op ’n alternatiewe grondpad.

Christo het stilgehou om die toegangshek oop te maak en is toe deur drie gewapende mans oorrompel.

Oor wat toe gebeur het, sal sy nog lank wroeg, sê Renske.

Christo het omgedraai en met die aanvallers gestoei, terwyl sy oorgespring om die bakkie te sluit.

“In daai stadium het ek nie regtig geweet wat ek doen nie, buiten dat ek die meisies moet veilig hou, maar toe hulle op Christo begin skiet, skree ek en toe draai die rowers om en skiet ook op my,” sê Renske.

Twee koeëls het haar getref, een in die arm en een in die rug.

In skok het sy blindelings besluit om weg te jaag, terwyl die meisies histeries geskree het. Hulle was ongedeerd.

Renske het teruggejaag tot by die tolhek en by die verkeersbeamptes gestop vir hulp.

Sy het haar selfoon in die hande gekry en begin bel vir hulp. Op daardie oomblik het Christo aangestap gekom.

Die rowers het hom gelos en gevlug toe Renske wegjaag. Bloeiend het hy die bakkie na die hospitaal bestuur. Hy is twee keer getref. Een koeël is deur sy lies en die ander het hom skrams getref.

Hy is ontslaan sodat hy na die meisies kon omsien.

Die koeël in Renske se rug sal eers later verwyder word.

Die meisies is baie getraumatiseerd, sê Renske.

Brig. Leonard Hlati, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het die voorval bevestig. Teen Sondagmiddag is die drie aanvallers nog nie aangekeer nie.

* Christo en Renske wou nie foto’s van hulle laat neem nie omdat hulle nog vrees vir hul en hul kinders se veiligheid.

Meer oor:  Renske Erasmus  |  Middelburg  |  Baba  |  Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.