Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vrou met kookwater gebrand toe sy nie wapens kon gee
Gerhard en Rina Kritzinger met hul kleinkinders. F
Gerhard en Rina Kritzinger met hul kleinkinders. Foto: Verskaf

’n Vrou is Dinsdagaand met kookwater gebrand nadat haar neef koelbloedig voor haar oë doodgeskiet is in ’n aanval op ’n hoewe buite Pretoria.

Ansu de Villiers (74) is erg geskok ná die aanval op hulle op haar hoewe in die Boschkop-gebied, oos van Pretoria.

Gerhard Kritzinger (64) is Dinsdagaand op ‘n hoewe in die Boschkop-gebied buite Pretoria doodgeskiet.Foto: FACEBOOK/Gerhard Kritzinger

Nadat die vier gemaskerde mans ná sowat ’n uur se plundery uit die huis gevlug het, moes die beseerde De Villiers na die tweerigtingradio soek – wat die aanvallers in ’n toiletbak gegooi het. Sy kon toe eers hulp ontbied.

Gerhard Kritzinger (64), ’n neef van De Villiers, is in die woonvertrek trompop in sy regterarm geskiet. Die koeël het ook deur sy een long gegaan.

Volgens betroubare bronne wat op die misdaadtoneel was, het die aanvallers Kritzinger met elektriese koorde vasgebind nadat hy geskiet is.

“Hy kon nie beweeg nie en het in sy eie bloed verdrink en doodgebloei,” sê Ian Cameron, hoof van AfriForum se eenheid vir gemeenskapsveiligheid.

Kritzinger se vrou, Rina (64), wat ook in die huis was, is glo met ’n pistool teen haar kop geslaan. Sy en De Villiers is ook met elektriese koorde vasgebind. Rina se hande is vol kneusmerke en potblou waar dit vasgemaak was.

Die Kritzingers was kuiergaste by De Villiers, wie se man, Toffie, vier maande gelede dood is.

Ansu de Villiers (74) en haar oorlede man, Toffie. Ansu is Dinsdagaand met kookwater gebrand in die aanval op haar hoewe buite Pretoria. Foto: Facebook

Konst. Yeroboam Mbatsane, woordvoerder van die Boschkop-polisiekantoor, sê die gewapende mans het klapmusse gedra toe hulle omstreeks 21:00 by die huis ingebreek het. Dit is nog onduidelik hoe en waar hulle ingekom het.

Rina was glo op pad na een van die slaapkamers toe sy sien ’n veiligheidshek is oop. Sy het onraad vermoed en het terug geloop na die TV-kamer waar haar man was.

Intussen het die gewapende mans die huis ingestorm en Gerhard het opgestaan waar hy voor die TV gesit het.

“Hulle het hom toe geskiet,” sê ’n lid van die Boschkop-buurtwag, wat anoniem wil bly.

Die aanvallers wou die kluis se sleutel hê. Hoe meer De Villiers vir hulle gesê het sy het dit nie, hoe meer het hulle kookwater oor haar bene gegooi.

Die aanvallers het die huis geplunder op soek na waardevolle items.

“Hulle was vir langer as ’n uur in die huis soos hulle na wapens gesoek het,” sê die buurtwaglid.

Daar was nie wapens in die huis nie.

De Villiers is na ’n hospitaal in die ooste van Pretoria geneem waar sy vir haar brandwonde en vir skok behandel is.

Mbatsane sê die aanvallers het ’n grootskerm-TV, twee selfone en ander elektroniese toerusting gesteel.

Hulle het vermoedelik weggery in ’n voertuig wat naby die hoewe gestaan het.

AfriForum se buurtwag help die polisie in die soektog na die mans.

Gerhard en Rina Kritzinger met hul kleinkinders. Foto: Verskaf
Meer oor:  Pretoria  |  Wapens  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.