Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vrou op landgoed dood voor helikopter met bloed opdaag

Twee noodhelikopters het Dinsdag by die Fly Inn Estate in Elandsfontein, Midrand, geland waar rowers ’n paartjie en hul dogter in hul dubbelverdiepinghuis aangeval het.

Rachel Giles (24) word na ’n helikopter geneem.

Die helikopters was op die toneel, nie net om die 24-jarige gewonde Rachel Giles en haar ma, Janique (56), na ’n hospitaal te neem nie, maar ook om bloed saam te bring vir die swaar gewonde ma. Janique het in daardie stadium nog geleef en, hoewel toe reeds erg swak, het paramedici van die Gau-Med-nooddiens gehoop die bloed kan tyd koop vir ’n wonderwerk. Die donkerkop vrou is egter dood voordat dié hulp haar kon bereik.

Janique en haar man, Wayne Giles (57), is Dinsdagoggend vroeg in hul huis vermoor. Giles, wat reeds geklee was, is omstreeks 05:30 in die sitkamer op die onderste verdieping van die huis in die kop geskiet. Janique, wat nog in haar slaapklere was, is aan die bopunt van die trappe aangetref met ’n skoot deur haar linkerlong, net onder die hart. Rachel is ’n entjie verder agter haar ma in die gang gevind met ’n skietwond in die bobeen.

Janique en Wayne Giles by ’n jaareindonthaal vir vliegvriende.

Karl Jensen, ’n goeie familievriend, het Woensdag gesê Rachel, wat Dinsdag kort ná haar aankoms by die hospitaal geopereer is, het “baie ernstige beserings aan haar femur”.

“Sy is egter stabiel en kon al vra vir ’n paar persoonlike items,” sê Jensen.

Brandon, Rachel se broer wat in ’n ander deel van die huis slaap, was fisiek ongedeerd. Hy het volgens die polisie wakker geskrik van die skote en hulp ontbied toe hy op sy gesinslede afkom.

Inwoners van die kompleks het ná Brandon, en later ook Rachel, se noodboodskappe die CMS-veiligheidsmaatskappy ontbied, wat eerste die huis in is.

Giles was reeds dood, maar Janique het nog gelewe en kon effens praat. Inwoners op die toneel het gehoor hoe een paramedikus sê as hulle “bloed kan kry”, kan hulle haar dalk nog help.

Jesse Petzer, hoofbestuurder van die Gau-Med-nooddiens, het Dinsdag gesê twee helikopters van die Netcare 911-nooddiens is ontbied om Janique en Rachel na ’n hospitaal te vervoer.

Die noodhelikopter het net duskant die Giles-huis in die naaste oop veld geland om Rachel Giles (24) hospitaal toe te neem.

“Die ma se toestand was kritiek. Die twee kinders se pa was reeds dood en ons het gehoop om hul ma te kan red. Sy het baie bloed verloor, daarom is die bemanning van die een helikopter versoek om bloed by ’n Netcare-hospitaal te gaan oplaai,” sê hy.

Ondanks hul pogings kon Janique nie gered word nie.

“Ons het so gehoop om die dogter én haar ma te red,” voeg Tetzer by.

Paramedici het ook vir Brandon, volgens inwoners toe ook nog in sy slaapklere, ondersoek. Nadat geen beserings aan hom gevind is nie, het traumaberaders hom onder die vlerk geneem.

Intussen het boodskappe van meelewing op sosiale media ingestroom vir Giles, ’n bekende ingenieur wat reusenywerheidsyskaste vervaardig het, in sy vrye tyd Bearhawk- ligte vliegtuie gebou het en ook verskeie Arabier-perde besit het, en Janique, wat die “kantoordeel” van Giles se onderneming behartig het.

Rachel, wat medies aan die Universiteit van Pretoria gestudeer het, het in 2018 haar honneursgraad in menslike-sel-biologie verwerf. Brandon is volgens inligting in die IT-bedryf betrokke.

Ons het so gehoop om die dogter én haar ma te red.
Een van die noodhelikopters reg langs die Giles-huis. Een helikopter moes leeg terugkeer nadat Janique Giles (56) op die toneel dood is.

Hy het volgens inwoners nie Dinsdagaand ná die voorval by die huis geslaap nie en was ook nie daar toe ’n professionele misdaadopruimingspan die woning Woensdag kom skoonmaak het nie.

Jensen sê ’n ander nabye familievriend het intussen kontak met die seun gehad.

“Hy is baie getraumatiseer. So ook al ons nabye vriende,”

Jensen het ook vir Mayday-SA, ’n lugvaartgroep bestaande uit mense in die bedryf wat berading verskaf, gekontak om Rachel en Brandon verder by te staan.

• Intussen duur die polisieondersoek voort nadat verskeie lede van die Olifantsfontein-polisiekantoor en forensiese deskundiges reeds Dinsdag die huis en omgewing gefynkam en met Brandon gesels het.

Brig. Mathapelo Peters, provinsiale polisiewoordvoerder, het vroeër gesê hulle ondersoek klagte van moord, poging tot moord en huisroof.

“Sekere items word uit die huis vermis, onder meer ’n televisie, twee MacBooks en ’n skootrekenaar,” sê sy.

Meer oor:  Janique Giles  |  Elandsfontein  |  Midrand  |  Landgoed  |  Bloed  |  Helikopter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.