Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vrou praat in video oor ‘seksuele mishandeling’ deur oupa

“Ek het seksuele mishandeling oorleef.”

Dit is die woorde van die kleindogter van ’n bekende in onderwyskringe in ’n video wat sy die afgelope week op sosiale media geplaas het. Sy beweer daarin haar oupa het haar seksueel mishandel sedert sy vyf jaar oud was.

Sy beweer in die video haar oupa se broer is ook ’n pedofiel. Sy noem hul name in die video.

Volgens dié vrou, wat nou in die buiteland woon, was sy nie haar bejaarde oupa en sy broer se enigste slagoffer nie.

Daar is nog slagoffers – in haar pa se familie, asook in die familie van die mans se vrouens.

“Daar is vroue in hul 50’s, in hul 40’s, in hul 30’s, in hul 20’s, tienermeisies wat seksueel deur hulle mishandel is.”

Sy sê sy het die eerste keer in 2014 tydens die #MeToo-veldtog oor die seksuele mishandeling begin praat.

Sy het egter toe nie in besonderhede ingegaan nie en het ook nie hul name bekend gemaak nie.

“Ek het al die jare gedink ek is die enigste een aan wie hy dit gedoen het.” Sy het egter ná ’n voorval in 2019 met ander vroue in haar familie en in die familiekringe begin praat en het toe besef sy is nie die enigste een nie.

Volgens die vrou weet sy dat daar mense is wat haar nie gaan glo nie, veral omdat die mans in hul gemeenskap gerespekteer word en ook omdat haar oupa oor die jare baie gemeenskapswerk gedoen het.

Ek vra nie vir geweld nie. Ek vra nie vir wraak nie. Wat ek wel vra, is dat julle hom boikot. Moet hom asseblief nie meer nooi om by jul skole toesprake te hou nie. Moenie jul kinders toelaat om deur hom ge-tutor te word nie.

Haar eie familie het van die beweerde seksuele mishandeling geweet en niks daaraan gedoen nie.

Wanneer sy daaroor gepraat het, het hulle glo vir haar gesê sy moet oor dit kom. Dit is verby, die mans is al oud en gaan binnekort sterf.

“Ek het verlede jaar gedink dat die familie iets daaraan gaan doen. Hulle het vir my gesê hulle gaan die mans in huisarres plaas.”

Sy het egter besef dit nie gebeur nie toe sy foto’s in aanlyn mediaberigte sien van haar oupa waar hy steeds funksies by skole bywoon, toesprake gee en saam met jong vroue, jong tienermeisies, afgeneem word.

“Ek vra nie vir geweld nie. Ek vra nie vir wraak nie. Wat ek wel vra, is dat julle hom boikot. Moet hom asseblief nie meer nooi om by jul skole toesprake te hou nie. Moenie jul kinders toelaat om deur hom ge-tutor te word nie. Moenie hulle besoek saam met jul jong dogters nie.”

Die vrou sê dit gaan nou nie meer oor haar nie, maar oor ander jong meisies wat glo geteiken kan word.

“Dink aan jou geliefde dogter, jou niggie, jou suster. Hou hulle weg van dié mans.”

Sy beskryf haar oupa en sy broer as charismaties. En selfs nadat sy met mense oor die mishandeling gepraat het, sou hulle vir haar sê: “maar hulle doen so baie vir die gemeenskap.”

“Maar dit maak nie saak wat hulle vir die gemeenskap doen nie. Dit maak seksuele mishandeling nie oukei nie.”

Die vrou sê mense verstaan nog nie wat seksuele voorbereiding is nie. “Hulle kry jou om hulle te vertrou.”

“Daar is tye dat ek nog nie kan praat oor wat met my gebeur het sonder dat ek skaam of skuldig voel nie. Ek probeer myself daaraan herinner dat ek net ’n kind was. Dat ek nie verstaan het wat met my gebeur nie.”

Sy was vyf jaar oud toe die beweerde seksuele mishandeling begin het. Haar oupa sou haar glo op haar bed vasdruk met haar hande vasgepen bo haar kop terwyl hy sy bene in haar sye druk. Sy kon nie beweeg nie. Hy sou haar dan seksueel mishandel en vir haar sê “kom ons soen soos in die flieks”.

Ander kere sou hy haar glo in hul motorhuis toesluit, sonder onderklere aan.

Maar dit maak nie saak wat hulle vir die gemeenskap doen nie. Dit maak seksuele mishandeling nie oukei nie.

In haar eerste dagboek het sy geskryf hoe sy na flieks soos Shrek gaan kyk. Sy het prentjies van die Back Street Boys, ’n bekende mans-sanggroep, in haar dagboek gehad.

Maar daar was ook aantekeninge van hoe bang sy was. Sy het geskryf dat haar eie oupa aan haar raak en dat hy seks met haar wil hê, terwyl sy nie eens geweet het wat dit is nie.

Die vrou sê in die video sy wens dat sy vroeër iets aan die situasie gedoen het, veral as sy nou daaraan dink dat so baie ander vroue en jong meisies seksueel mishandel is deur die twee broers.

“Ons het almal gedink dit is net ons alleen. Ek is so jammer daaroor.”

Sy sê dat sy in ander omstandighede, as sy die enigste slagoffer was, nie so openlik oor die beweerde seksuele mishandeling sou praat nie.

“Maar ek doen dit sodat dit moet stop.”

Sy sê sy weier om langer skuldig te voel, skaam te wees, gedreig te word en stilgemaak te word.

“My jarelange stilte het die misbruikers bemagtig.”

Al wat sy vra, is dat mense hul kinders moet beskerm.

Die vrou sê sy weet sy gaan aangeval word, dat sy haatboodskappe gaan kry. Sy kan dit hanteer.

“Ek is oor die jare miljoene kere gebreek, veral die afgelope jaar.”

Daar is volgens haar niks wat niemand kan doen wat haar gaan laat voel dat sy verkeerd is om haar vermeende misbruiker se naam bekend te maak nie.

“Om stil te bly is nie die regte ding nie. Dit was een van die moeilikste goed vir my om te doen, maar ek sal dit weer doen as ek moet.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.