Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vrou se angsnag ná haar tweede verkragting

Byna 14 jaar gelede is sy in haar huis oorval en verkrag.

Michelle Els en haar seun, Michael, is in hul huis oorval en beroof. Foto: Far North Bulletin

Toe dit wéér gebeur, was Michelle Els (52) boonop vas oortuig dat haar seun en sy tweejarige dogter ook hierdie keer vermoor is.

Michelle het eers om 02:00 die volgende oggend gehoor hulle lewe toe sy by ’n satellietpolisiekantoor in die Mamitwa-omgewing ingestrompel het.

Die nagmerrie het op Vrydag 23 Februarie begin nadat Michelle en haar seun, Michael, huis toe is ná ’n skof by die kroeg wat sy besit, Zabana in Tzaneen, Limpopo.

“Ons het ’n baie besige aand by die kroeg gehad. Ek en Michael het soos gewoonlik die plek gesluit en omstreeks 21:30 huis toe gegaan,” sê sy.

Haar huis en die kroeg is op dieselfde eiendom langs die R71-pad na Phalaborwa (net buite Tzaneen), sowat 500 m uitmekaar.

“Ek was pootuit en het net so met my klere aan in die bed geklim.”

Die leier het in ’n stadium vir my gesê: ‘Moenie vir my kyk nie, jou wit teef.’

Michael (32) het op die stoep gerook terwyl hy WhatsApp-boodskappe aan sy vrou in Doebai gestuur het.

“Hy was nog op sy foon besig toe drie gewapende mans voor hom uit die donker verskyn. Hulle wou weet hoeveel mense in die huis is en is saam met hom na my kamer toe,” sê Michelle.

Die drie mans het ­Michael se hande en voete met gordels vasgemaak en Michelle beveel om al die geld in die huis aan hulle te gee.

“Ek het omtrent R220 in my beursie gehad en Michael R100. Ek het dit en my bankkaart vir hulle gegee, maar toe soek hulle nog.”

Die mans het haar na die kroeg gevat waar hulle die dag se inkomste, nagenoeg R4 000, gevat het.

Van daar is hulle terug huis toe.

“Hulle het die huis omgekeer vir wapens en juweliersware. Ek het die hele tyd gepleit dat hulle my nie moet doodmaak nie. Die leier het in ’n sta­dium vir my gesê: ‘Moenie vir my kyk nie, jou wit teef’, en het my seker omtrent 15 keer vir my bankkaart se PIN gevra,” sê Michelle.

Michael het geen geluid gemaak nie en van sy dogtertjie, Lana, was daar ook geen teken nie. “Ek kon net sy voete langs die bed sien uitsteek. Ek was daarvan oortuig hulle het hom doodgemaak.”

Later het die rowers Michelle voor in een van hul bakkies geprop.

“Een van hulle het op my skoot gesit. Ek het ’n mes teen my keel en ’n pistool teen my kop gehad,” sê Michelle. Sy was heeltyd onder die indruk dat Lana agterop die bakkie is.

“Ek het probeer tred hou met al die draaie, maar het later deurmekaar geraak. Toe ons stop, was dit iewers in die Mamitwa-omgewing in ’n digte bos en ek het nie geweet waar ons is nie.”

Die bestuurder het haar uit die bakkie gedwing en die bosse in geneem.

“Hy het gesê ek moet my broek uittrek en gevra of ek MIV-positief is.”

Die volgende paar minute se gebeure sal saam met destyds se angs en pyn vir die res van haar lewe aan haar kleef. “Nadat hy met my klaar was, het hulle gery. Ek het vir ’n paar minute stil gesit uit suiwer vrees,” sê Michelle.

Toe begin sy hardloop.

“Ek het blase onder my voete van die gehardloop. En elke keer as ek ’n kar se ligte gesien het, het ek in die bosse langs die pad ingeduik.”

In ’n klein informele nedersetting het ’n minibustaxibestuurder tot haar redding gekom.

“Hy het genl. Maggie Mathebula van die polisie se selnommer op sy foon gehad en haar gebel,” sê Michelle.

Dié man het haar na die klein polisiekantoor geneem waar sy uiteindelik gehoor het haar mense is veilig.

Lede van ’n plaaslike veiligheidsmaatskappy het klein Lana veilig in haar bed ontdek.

Die Letaba-buurtwag het ’n beloning van R80 000 ingesamel wat hulle nou uitloof vir inligting wat tot die vervolging van die rowers kan lei.

Brig. Motlafela Mojapelo van die Limpopo-polisie het bevestig dat klagte van verkragting, huisbraak en ontvoering ondersoek word.

Meer oor:  Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.