Die lyk van 'n 33-jarige vrou is Saterdagoggend vroeg by ’n gewilde getypoel in Hermanus ontdek.
’n Veiligheidswag het op die lyk afgekom in ’n bebosde gebied langs ’n paadjie wat na Fick se Poel by dié dorp lei.
Die lyk het aan ’n boom gehang.
Die polisie het blykbaar ’n man wat aan die vrou bekend was, vir ondervraging ingeneem.
Die geskokte en getraumatiseerde familie van die vrou sê sy was vier maande swanger en word oorleef deur drie seuns van 15, 10 en drie.

Geskokte familielede van ’n 33-jarige vrou, wie se lyk Saterdagoggend vroeg by Fick se Poel in Hermanus gevind is, vertroos mekaar by die toneel. Foto: Anena Burger
Inwoners en vakansiegangers het by die toneel saamgedrom terwyl die polisie en die forensiese eenheid die toneel gefynkam het.
Die vrou se ma en suster het bitterlik gehuil terwyl die vrou se pa verdwaas rondgeloop en gesê het: “Dis my baby girl. Dis my baby.”
Die familie sê hulle het Saterdagoggend na haar gesoek toe sy nie vir werk opdaag nie. Sy en haar suster is versorgers van bejaarde pasiënte.
Die vrou se suster sê sy het vir haar kinders gelewe en was ’n liefdevolle mens wat haar werk as versorger van bejaardes geniet het. “Sy sou nie weggebly het van die werk nie.”
Kapt. Fadila September, woordvoerder van die Hermanus-polisiekantoor, het die voorval bevestig. 'n Geregtelike nadoodse ondersoek word gedoen.

Die lyk van ’n 33-jarige vrou wat Saterdagoggend by Fick se Poel in Hermanus gekry is word in ’n forensiese voertuig gelaai. Foto: Anena Burger