Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vrou kritiek ná motor by skool aan brand gesteek is

Die vrou wat Maandag voor ’n kleuterskool in Benoni ernstige brandwonde opgedoen het nadat haar kêrel na bewering haar motor aan die brand gesteek het, is steeds in ’n kritieke toestand in die hospitaal.

Die voorval het omstreeks 06:20 voor ’n kleuterskool in Rynfield gebeur. Luidens ’n verklaring van ER24 was die nooddienste om 06:50 op die toneel waar die motor nog op die parkeerterrein aan die brand was.

’n Man en twee vroue het ernstige brandwonde opgedoen.

“Dit blyk dat die man petrol oor die voertuig uitgegooi het terwyl die vrou in die motor was. Nog ’n vrou het beserings opgedoen toe sy die ander vrou uit die voertuig wou help,” lui die verklaring.

Kol. Noxolo Kweza, polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek ’n voorval waarin ’n 40-jarige man sy 27-jarige vriendin glo aan die brand gesteek het.

Dit blyk dat die man petrol oor die voertuig uitgegooi het terwyl die vrou in die motor was. Nog ’n vrou het beserings opgedoen toe sy die ander vrou uit die voertuig wou help.

Die man is onder polisiebewaking in die hospitaal en klagte van poging tot moord en kwaadwillige saakbeskadiging word ondersoek.

News24 berig daar kan op beelde van ’n kringtelevisiekamera gesien word hoe ’n vrou haar kind by die kleuterskool inneem. Die vrou se niggie wag in die motor. Kort daarna hou ’n taxi langs hul motor stil.

Wanneer die vrou weer in die motor klim, klim ’n man uit die taxi en breek ’n venster van die motor. Die vrou en haar niggie hardloop dan na die skool, maar wanneer die man iets uit die taxi gaan haal en terugkeer na die motor, draai die vrou terug en probeer hom keer. Die kar vat vlam en die vrou raak ook aan die brand.

Volgens News24 spring die man dan in die brandende voertuig, maar spring weer uit.

ER24 het die beseerdes op die toneel gestabiliseer en na nabygeleë hospitale geneem.

Die eienares van die skool, wat anoniem wil bly, het aan Netwerk24 gesê sy was tydens die voorval nog nie by die skool nie, maar ’n onderwyseres het die paniekknoppie vir die sekerheidsmaatskappy gedruk en haar gebel.

“Alles het so vinnig gebeur, hulle het gedink dis dalk ’n kaping. En toe is die kar aan die brand,” sê sy.

Die man is nie die kind se pa nie. Die eienaar sê daar was nog nooit soortgelyke gevalle nie.

“Dis ’n oulike ma en dogter, en die man het haar baie by die skool afgelaai en weer opgelaai. Ek het vanoggend met die oupa gepraat en hy is verpletter. Die ma is nog in die intensiewesorg-eenheid en haar toestand is kritiek. Die dogter is baie geskok en sy praat nie.”

Alles het so vinnig gebeur, hulle het gedink dis dalk ’n kaping. En toe is die kar aan die brand.

Van die ander kinders in die kleuterskool het die voorval gesien gebeur.

“Dis moeilik om vir ’n kind te verduidelik wat gebeur het, so ons het beraders gekry. Wat vir my skokkend is, is al die geslagsgeweld wat besig is om onder ons neuse te gebeur. Jy dink alles is reg, maar intussen is alles by die huis nie oukei nie,” sê sy.

Meer oor:  Benoni  |  Brand  |  Motor  |  Kleuterskool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.