Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vrou ses uur in sel toegesluit oor R100

Sy kon nie asem kry nie – nie deur haar masker nie en ook nie deur die hek van die “sel” van 1 m x 2 m by die Wonderpark-winkelsentrum in Pretoria-Noord waar sy vir ses uur aangehou is nie.

Anders as vir die Amerikaner George Floyd het haar vervalste banknote nie haar dood beteken nie. Geen slagspreuke oor haar stryd om asem te kry het wêreldwyd weergalm nie en geen bewegings is begin nie, maar die Zimbabwies gebore Faith Mutasa het nooit opgehou glo mense sal haar “red” nie.

Faith Mutasa by een van haar redders, Michiel Jacobsz, in die 'sel' waar sy gehou is. Foto: Deon Raath

“Ek het aangehou bid. Elke keer as ek my oë toemaak, sien ek weer die sel en sukkel ek om asem te kry, al maak ek die vensters oop,” het Mutasa Donderdag aan Rapport gesê.

Haar misdaad? Sy het onwetende met twee vervalste banknote medisyne vir een van haar twee kinders (sewe jaar en 13 jaar) probeer koop.

“Ek was Dinsdag 30 Maart by Clicks in die Wonderpark-sentrum. Die enigste geld wat ek by my gehad het, was R280 wat drie dae tevore aan my betaal is om ’n huis skoon te maak.”

Die items wat sy wou koop, het R110 gekos. “Ek het twee R100-note, ’n vyftig, ’n twintig en ’n tien by my gehad. Toe ek die een honderd en die tien vir haar gee, sê die vrou by die toonbank vir my dis vervals. Ek sê toe, ‘Dis oukei, ek het nog ’n honderd’ toe kyk sy daarna en sê dis óók vervals en toe roep sy die bestuurder.”

Mutasa sê haar verduidelikings het op dowe ore geval. “Ek het gesê ons kan die vrou bel wat my betaal het.”

Die winkelbestuurder het die sentrum se veiligheidswagte ontbied.

“Hulle het my van agter gegryp en met my arms vorentoe gedwing.”

My eerste gedagte was: ‘My familie is hier!’

Sy sê die wagte het haar deursoek.

“Hulle wou weet of ek nog vals geld by die huis het. Ek het ook vir hulle gesê ek kan die vrou bel wat my betaal het, toe sê hulle: ‘Nee, ons wil met niemand praat nie; ons ken ál die stories.’

“Hulle praat toe met die bestuurder oor my skouer en noem my ‘die verdagte’. Ek het koud geword. Is ek nou ’n verdagte? Ek, Faith? Ek is nie ’n bank nie en het nie een van daardie masjiene wat toets of geld vervals is nie.”

Haar nagmerrie was nog lank nie verby nie.

“Die sel is aan die buitekant van die sentrum, langs die parkeerterrein. Dit was klein en bedompig. Ek kon nie asem kry nie en toe hulle die slot sluit, het my hart amper gaan staan.”

Rapport was Donderdag saam met Mutasa daar.

“Ek leer my kinders as hulle nie die wet gehoorsaam nie, gaan die polisie hulle toesluit. Wat moet ek nou vir hulle sê? My seun, hy is sewe, is in die skool. Ek moes hom daardie dag gaan haal het.”

Sy kyk met ’n glimlag na een van haar werkgewers se seun, Michiel Jacobsz. “Ek was so geskok toe alles gebeur het, ek kon nie my selfoon lekker gebruik nie. Dit het my halfvier die middag 15 minute gevat om vir Michiel te tik ‘how are you’, maar toe weet ek hulp is op pad.”

Dr. Ethel Radali, Faith Mutasa en Sinead Terblanche minute nadat sy vrygelaat is.

Jacobsz sê: “Dis só Faith. Sy word wederregtelik aangehou in ’n sel by ’n winkelsentrum en haar eerste hulpkreet begin met ‘hoe gaan dit met jou?’ Dís óns Faith, dis die vrou wat soos ’n misdadiger aangehou is.”

Hy is woedend. “Ek het herhaaldelik met almal – Wonderpark, Clicks én die polisie – probeer praat. Niemand wou na my luister nie.”

Mutasa is van Wonderpark na die Akasia-polisiekantoor in Rosslyn geneem. “Ek het vir hulle gesê ek het niks verkeerd gedoen nie, toe sê hulle net: ‘Bly stil!’ ”

Sy huiwer en sê: “Ek het begin dink dalk is ek skuldig.”

Ná middernag is sy na die Soshanguve-polisiekantoor oorgeplaas. “Die selle was vuil en het soos piepie geruik.

“Ons moes in ’n vol sel slaap, al kan jy nie slaap nie.”

Die volgende aand om 20:00 het die gety teen haar uiteindelik gedraai. “Die polisie het vir my gesê: ‘Pak jou goed.’

“Ek het gedink hulle vat my na ’n ander tronk toe, maar toe sê die polisievrou my mense wag buite. Toe ek by die polisiekantoor uitloop en ek sien Michiel-hulle was my eerste gedagte: ‘My familie is hier!’ ”

Die werkgewer wat haar betaal het, het aan Rapport bevestig sy het vir Mutasa R280 gegee. “My dogter het die geld uit ’n tellermasjien getrek en vir my gebring – R250 wat sy getrek het en R30 wat in die huis was.”

Mutasa het Vrydag in die landdroshof in Pretoria-Noord verskyn, maar die saak is nooit op die hofrol geplaas nie. “Die dossier het nie by die hof opgedaag nie,” het Lumka Mahanjana, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag in Pretoria, Saterdag aan Rapport gesê.

Clicks se senior bedryfshoof vir winkels, Sedick Arendse, het die voorval in ’n verklaring bevestig. “Ons het ’n deeglike ondersoek gedoen. Die Clicks-personeel het aan standaard- operasionele prosedures voldoen.”

Oor die “sel” sê Arendse: “Ons kan nie kommentaar lewer oor die voorval nie, want dit het buite ’n Clicks-winkel gebeur. Dit is ’n polisiekwessie.”

Die Wonderpark-sentrum wou nie kommentaar lewer nie.

Meer oor:  Faith Mutasa  |  Michiel Jacobsz  |  Vervalste Banknote  |  Clicks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.