Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vrou vas ná ‘verhuring-slenter’

’n Vrou van Sedgefield in die Suid-Kaap bly in aanhouding nadat sy na bewering baie mense uit geld bedrieg het met die verhuring van eiendomme.

Marianne Roux. Foto: Facebook

Marianne Roux (32) het Maandag in die landdroshof in Thembalethu, George, verskyn in verband met ’n saak van diefstal wat in Januarie vanjaar by die polisie in George aanhangig gemaak is, sê kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder.

Volgens Pojie het Roux mense aanvanklik bedrieg deur hul deposito’s te neem wat veronderstel was om oorbetaal te word aan die regmatige eienaars van vakansieverblyf.

Sy het blykbaar die geld gebruik om ’n oordadige lewenstyl te handhaaf.

Sy is Vrydag by haar huis in Sedgefield in hegtenis geneem en by die polisieselle in Conville, George, aangehou totdat sy Maandag die eerste keer in die hof verskyn het.

Die saak is tot 11 Julie vir ’n borgtogaansoek uitgestel. Die ondersoekbeampte sal dit teenstaan, sê Pojie.

“Sy bly in aanhouding. Tot dusver het 13 klaers na vore gekom om aan te meld dat hulle bedrieg is. Die slenter is blykbaar gebruik om onskuldige mense te bedrieg uit duisende rande kontant, wat meer as R70 000 beloop,” sê hy.

Mense van so ver as Lephalale in Limpopo, Midrand en Kempton Park in Gauteng en Bellville in die Wes-Kaap is slagoffers van die slenter.

“Ons glo meer mense is bedrieg, en doen ’n beroep op potensiële slagoffers om die voorvalle by die naaste polisiekantoor te gaan aanmeld. Mense van so ver as Lephalale in Limpopo, Midrand en Kempton Park in Gauteng en Bellville in die Wes-Kaap is slagoffers van die slenter.”

Volgens inligting op Facebook het Roux vakansiehuise in die Tuinroete onder “Eden Travel Holiday Homes” bemark. Die blad was Dinsdag nie meer beskikbaar nie.

Jurgens van der Walt van Sedgefield-toerisme sê hy het ’n paar maande gelede begin om mense te waarsku nadat besoekers die toerismekantoor gebel het om uit te vind presies waar huise is wat vir verblyf bespreek is. Van der Walt het dan gaan kyk, maar kon nie die huise vind nie.

’n Skermgreep van die Facebook-blad “Eden Travel Holiday Homes”. Foto: Facebook

In nog ’n geval het mense by ’n verblyfplek in Sedgefield oorgebly, maar die geld wat hulle betaal het, is nooit aan die eienaar oorbetaal nie.

Van der Walt het die inligting bymekaargemaak. “Ek het besluit iets moet gedoen word,” sê hy.

“Mense betaal ’n fortuin om vakansie te hou en spaar daarvoor. Om hier te moet kom nadat hulle 1 300 km gery het en die verblyf bestaan nie, is wreed. Dit gaan reeds swaar met die toerismebedryf, ons kan nie sulke goed toelaat nie.”

Mense het ook op Facebook laat blyk dat hulle onder meer deposito vir vakansieverblyf in Desember (2019) op plekke soos Groot-Brakrivier en Hartenbos betaal het. Nadat hulle snuf in die neus gekry het, het hulle die verblyfeienaar gekontak, net om uit te vind dat die geld nie oorbetaal is nie.

Meer oor:  Marianne Roux  |  Kapt. Malcolm Pojie  |  Sedgefield  |  Suid-Kaap  |  Slenter  |  Verhuring  |  Eiendomme  |  Diefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.