Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vrou waarsku ouers ná sy meisies van ‘ontvoering’ red

’n Vrou van Port Elizabeth, wat twee tienermeisies glo te hulp gesnel het toe hulle amper helder oordag ontvoer is, het ouers gewaarsku om nie hul kinders alleen op straat te laat stap nie.

Volgens die vrou, wat anoniem wil bly, het die voorval Maandag omstreeks 15:40 in Bellweg in Gelvandale gebeur.

“Die pad was dié middag stil. Dit het liggies gereën en dit was ’n vakansiedag.

’n Foto van die bakkie en een van die twee mans wat glo Maandag twee tienermeisies in Gelvandale, Port Elizabeth, probeer oortuig het om in die bakkie te klim. Foto: Verskaf

“Ek het in die straat opgery en ’n skedonk-bakkie met twee mans gesien. Hulle het stadig gery terwyl hulle met twee tienermeisies op die sypaadjie probeer praat het.

“Ek kon aan die meisies se houding sien dat iets verkeerd is – hulle het ongemaklik gelyk.”

Sy sê die bakkie was aan die oorkant van die pad van die meisies. “Die meisies het skielik vinniger gestap en toe draai die bakkie in die baan van die aankomende verkeer in om nader aan die meisies te wees.”

Die vrou sê sy het geweet iets is verkeerd en het haar dubbelkajuitbakkie reg voor die ander bakkie tot stilstand gebring.

“Ek hoef nie eens te gevra het nie, want ek kon die vrees op die meisies se gesigte sien. Maar ek het gevra en hulle het gesê die mans wou hê hulle moes in die bakkie klim.”

Sy het vir die meisies gesê dat hulle in haar bakkie kan klim, waarna sy die mans gekonfronteer het.

“Ek het nie gedink wat ek doen toe ek die twee mans aanvat nie, maar ek is ook ’n ma en het besluit ek moet iets doen.”

Ons moet mense waarsku. Ek is seker die meisies sou Maandag ontvoer gewees het. Kinders word nie op ander plekke ontvoer nie – hulle word hier, op ons voorstoep, gevat.

Die twee mans het eers beweer dat hulle die meisies aanwysings na die naaste Spar gevra het. Toe die meisies, wat in daardie stadium reeds in die vrou se bakkie was, skree dat dit nie waar is nie, het die mans gesê hulle wou die meisies ’n saamrygeleentheid gee omdat dit reën.

“Op daardie oomblik het nog ’n motor by ons stilgehou. Die oom in die motor het gesê hy het ook verby die skedonk-bakkie gery en gesien dat die meisies ongemaklik lyk. Hy het om die blok gery en weer kom kyk wat aangaan.

“Dié oom se optrede sê vir my dat ek nie oorreageer het nie.”

Die vrou het die meisies by hul huise gaan aflaai. Sy het Dinsdag die voorval by die polisie aangemeld.

“Ons moet mense waarsku. Ek is seker die meisies sou Maandag ontvoer gewees het. Kinders word nie op ander plekke ontvoer nie – hulle word hier, op ons voorstoep, gevat.”

Kapt. Johan Rheeder, polisiewoordvoerder, sê die voorval is by die polisie aangemeld, maar omdat die vrou nie die klaer in die saak nie, is ’n dossier nie geopen nie.

Hy sê die inligting sal wel Woensdag aan die polisie se intelligensie-eenheid gegee word om op te volg.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Ontvoering  |  Redding  |  Misdaad  |  Tienermeisies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.