Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Vroue-rower dalk ‘skakel’ na moord op veearts

*Video is by dié berig bygevoeg sedert dit gepubliseer is.

’n Gewapende rooftog Woensdagaand in Jetpark, Boksburg, het moontlik die ontbrekende “skakel” na die moord op ’n Pretoriase veearts in Januarie verskaf.

Dr. Freddie Malan
Dr. Freddie Malan Foto: Facebook

Dit blyk volgens die private ondersoeker Mike Bolhuis se forensiese deskundige dat die goed versorgde vrou wat Woensdagaand doodluiters ’n vuurwapen op mense in ’n sjokoladepakhuis gerig het, dieselfde een is wat destyds onder valse voorwendsels toegang tot dr. Freddie Malan se Jakaranda-dierehospitaal in Pretoria verkry het.

Malan (57) is op 31 Januarie doodgeskiet.

Bolhuis glo die feit dat die vrou nou ’n “gesig het” kan 'n deurbraak in die moordondersoek wees. 

Malan is vermoor nadat ’n vrou toegang tot die praktyk gekry het deur voor te gee dat sy ’n kat wil inbring.

Die “deurbraak” waarvoor Mike Bolhuis gewag het: ’n Gesig wat verbind word met die moord op ’n Pretoriase veearts in Januarie.Foto: Skermgreep
So lyk die vrou wat vermoedelik met die moord van dr. Freddie Malan, ’n Pretoriase veearts, verbind word.Foto: Skermgreep
Die vrou skuif haar handwapen van haar regter- na haar linkerhand sodat sy haar hare kan verstel terwyl sy tussendeur een van die slagoffers deursoek.Foto: Skermgreep
Die vrou en een van haar medepligtiges stap die kantoordeel by die sjokoladepakhuis in nadat hulle kort tevore nog gelyk het asof hulle net kletspraatjies met die personeel maak. Foto: Skermgreep

Ná haar “navraag” het sy uitgestap “om die kat te gaan haal” – en vir twee gewapende aanvallers die deur oopgehou. Malan is in ’n stoeiery met die vrou deur een van haar manlike makkers geskiet.

Woensdagaand, net ná 19:00, het ’n vrou saam met ’n man by ’n kantoor van die sjokoladepakhuis ingestap – weer eens doodluiters en kalm. Dit lyk asof daar eers kletspraatjies gemaak word, voordat die man en die vrou elkeen ’n handwapen uithaal, die wagte en personeel op die grond laat lê en hul persoonlike items, ’n handradio en geld roof.

Kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê in dié voorval was daar vermoedelik 16 verdagtes, insluitende die vrou op die beeldmateriaal.

“Hulle het die werknemers en wagte aangehou. Die ander verdagtes het toe twee vragmotors nadergetrek en die werknemers beveel om dose sjokolade in te laai. Niemand is beseer nie en die waarde van die sjokolade kan nie in hierdie stadium bevestig word nie,” sê Masondo.

Die polisie ondersoek ook die moontlikheid, het hy bygevoeg, dat dié bende “dalk by ander misdade betrokke kon wees, veral waar dieselfde modus operandi gebruik is”.

Volgens Bolhuis ís die modus operandi wat in die sjokoladerooftog gebruik is, dieselfde as in 15 ander sake in Pretoria en Johannesburg, sowel as die een wat gebruik is met Malan se moord.

Bolhuis is destyds deur die veearts se familie aangestel om sy moord te ondersoek.

Freddie Malan, moord
'n Skets van die verdagte wat ná die moord op dr. Freddie Malan deur Mike Bolhuis se forensiese deskundige saamgestel is. Dit wys die ooreenkomste met videomateriaal van die rooftog. Volgens Bolhuis is dit 'n 100%-ooreenstemming met beskrywings van vorige misdade waarby die vrou glo betrokke was. Verskaf

“Donderdagoggend stuur iemand vir my die beeldmateriaal van die rooftog in Jetpark. Ons forensiese deskundige, wat ook spesialiseer in gesigherstrukturering, het dit vergelyk met foto’s en ID-samestellings van die vrou betrokke by dr. Malan se moord. Ons is baie seker dis dieselfde vrou.”

Die verdagte in Malan se moord, die ander rooftogte én Woensdagaand se voorval, is ’n donkerkop vrou van in haar laat 20’s of vroeg 30’s. Sy werk saam met minstens twee mans.

“Sy lyk goed versorg en geensins verdag nie, net ’n gewone vrou wat ‘iets wil vra’. Sy is die ‘afleiding’ wat slagoffers op hul gemak stel. Mense ontspan en verslap hul waaksaamheid, wat haar die kans gee om haar makkers te laat inkom,” verduidelik Bolhuis.

Hy sê die vrou en haar medepligtiges is gevaarlik, veral omdat sy ook nou, volgens die video van die Jetpark-voorval, ’n wapen dra.

“Hulle roof nooit ‘groot’ nie – kleinkasgeld, die slagoffers se besittings soos fone en skootrekenaars en wat anders daar ook al beskikbaar is,” sê Bolhuis.

Hy versoek mense wat die vrou op die video herken om hom te kontak.

* Mense met inligting kan Bolhuis by 082 447 6116 of die polisie se Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 bel.

* Video: https://www.facebook.com/MikeBolhuisOfficial/videos/646614202414434/

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.