Dit gaan baie beter met die voormalige Vrystaatse vroueboer van die jaar wat die naweek op haar plaas aangeval is, hoewel sy nog erg gespanne en getraumatiseerd is, sê haar broer.
Graham Jacobs sê dit is nog moeilik vir die familie om te praat oor die voorval waarin sy suster, Mimie Jacobs, Saterdagaand op haar plaas buite Bloemfontein aangeval is.

Mimie Jacobs Foto: Verskaf
Jacobs moes die aand etlike kilometers ver hardloop om hulp te kry nadat sy deur drie mans oorval is. Sy is met ’n mes in die kop gesteek en met die dood en verkragting gedreig.
Dokters van die Mediclinic Bloemfontein het Sondag ’n stuk van die mes wat in die wond afgebreek het, verwyder en die wond toegewerk. Graham het die hospitaalpersoneel lof toegeswaai vir hul flink diens.
Jacobs het ook ’n oppervlakkige sny aan haar regterpinkie opgedoen en haar wang- en kakebeen is gekneus, sê Graham.
“Die kakebeen en wangbeen is baie seer, dit lyk op die X-strale of dit gekraak is.”

Mimie Jacobs is in 2016 aangewys as die Vrystaat se vroueboer van die jaar. Foto: Facebook
Sy suster sterk aan nadat die steekwond in die kop Maandag weer by ’n kliniek skoongemaak is.
Jacobs, in haar vroeë vyftigs en die ma van twee volwasse seuns, is omstreeks 20:00 oorval nadat die aanvallers die huis se houtdeur afgeskop het.
Sy was alleen by die huis. Die rowers het haar vasgebind.
“Sy is in haar eie kamer met die dood en verkragting gedreig en gevra om ’n bedrag geld oor te betaal.”
Graham sê soos hy van sy suster verstaan kon sy egter daarin slaag om die transaksie te kanselleer.
“Daarna het sy op een of ander manier ontsnap terwyl hulle nog daar was.”
Sy kon haar stewels aantrek en het sowat 5 km na ’n buurplaas gehardloop om hulp te gaan soek, waarna die ambulans en polisie ontbied is.
Graham sê die polisie het hul bes probeer om die aanvallers op te spoor, maar meen daar was te min beamptes aan diens.
Hy prys die naburige boere vir hul behulpsaamheid en sê hulle was dadelik op die toneel.
Jacobs boer met mielies, sonneblom en lusern en het onlangs pekanneutbome aangeplant. Sy is in 2016 deur die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling as die beste vroueboer aangewys vir die verbouing van graan en groente.

Mimie Jacobs is nog erg gespanne en getraumatiseerd ná Saterdag se plaasaanval. Foto: Facebook
Van haar broers is ook in die landboubedryf, insluitende Graham wat op Dewetsdorp boer.
Die familie is baie ontevrede met die “vrot diens” wat Jacobs by die Pelonomi-hospitaal in die stad ontvang het waarheen sy aanvanklik gebring is.
Graham sê Jacobs het etlike ure gewag sonder dat ’n dokter by haar was. Sy is toe na die Mediclinic geneem.
Die familie het nog nie besluit of hulle stappe teen die Pelonomi-hospitaal gaan doen nie.
Die DA het in ’n verklaring gesê Jacobs se ervaring by dié hospitaal is ’n herinnering waarom landburgers moet vasskop teen die beplande nasionale gesondheidsversekering (NGV) .
Volgens Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, is Jacobs Sondag omstreeks 02:08 na die hospitaal gebring waar die aard van haar beserings bepaal is. Haar toestand is toe as stabiel geklassifiseer en sy sou binne ’n uur deur ’n dokter gehelp word.
“Pelonomi hanteer ’n uiters hoë aantal gewelddadige voorvalle oor naweke en ons toegewyde gesondheidswerkers probeer hul allerbes om dié pasiënte binne die kortste moontlike tyd te help.
“Ongelukkig word ons gesondheidswerkers oorweldig deur die hoë volume werk en neem dit langer as die gestelde norme en standaarde.”
Mvambi sê Jacobs het die hospitaal teen omstreeks 05:00 verlaat sonder dat ’n dokter haar behandel het.
Volgens hom is hierdie nie ’n aanduiding van wat die NGV inhou nie.
Mvambi sê mense wat die voorval politiseer moet die hoë aantal pasiënte in ag neem wat voor en ná Jacobs behandel is.
* Die Vryheidsfront Plus het Jacobs in ’n verklaring spoedige herstel toegewens. Die party het die polisie vir hul spoedige optrede geloof, maar sê indien spesialiseenhede ingestel was soos die party bepleit, sou plaasaanvalle soos dié afgeweer kon word.