Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vryheid-moord: Span nog besig om leidrade op te volg
Billy van Rooyen en sy vrou, Karlien, met hul seuntjies, Lodewyk en Izak. Foto: Facebook

Karlien van Rooyen het Vrydagoggend haar man en pa, wat vroeër vandeesweek op die Van Rooyen-familieplaas buite Vryheid in KwaZulu-Natal vermoor is, in trane gaan uitken, sê ’n familielid.

“Daar is nie ’n oomblik dat sy nie huil nie. Sy is in stukke,” sê Leemor Daniel Lombard, Karlien se skoonsuster.

Karlien se man, Billy van Rooyen (38), het Dinsdag net ná 20:00 geluide buite die huis gehoor en uitgegaan om te sien wat aangaan. Hy is twee keer in die bolyf geskiet deur meer as tien aanvallers wat die vier huise op die perseel omring het.

Terwyl Karlien haar sterwende man in die huis probeer insleep het, het haar pa, Ronnie Lombard (62), uit sy huis, wat 10 m van hulle s’n af is, gehardloop gekom.

Hy is in die linkersy geskiet.

’n Polisielid, wat anoniem wil bly, sê dit lyk asof ’n gedeelte van Lombard se arm voor sy linkersy was toe hy geskiet is.

“Die wond aan sy sy was groot en dit lyk asof daar ’n hap uit sy arm is,” sê hy.

Billy het op pad hospitaal toe – wat meer as 65 km van die plaas af is – gesterf en sy skoonpa is die volgende oggend in die hospitaal dood.

Billy se pa, Lood, is tydens die aanval teen die voorkop en wang met ’n geweer geslaan. Hy is Woensdagoggend uit die hospitaal ontslaan.

Die polisielid sê die agt mans, wat dieselfde aand ingevat is vir ondervraging, is steeds in aanhouding.

Die polisie het ’n aansoek tot verdere aanhouding van die hof verkry omdat die ondersoekspan nog vrae vir die mans gehad het en omdat die 48-uur-aanhoudingstyd amper verstryk het.

“Daar is nog geen bewyse teen hulle nie, maar die getuienis begin ’n prentjie vorm. Dit lyk asof hulle op die verkeerde tyd op die verkeerde plek was,” sê hy.

Die ondersoekspan sif nog deur die beweerde voormalige veiligheidswag en die huidige een se selfoonrekords om hul getuienis te bevestig.

Die span sê die een het die ander, wat in ’n nabygeleë kroeg was, gebel om hom van die moord te vertel en aangedring dat hy en die ander mense in die kroeg huis toe gaan.

Die twee veiligheidswagte en die ses ander mans is glo op pad huis toe aangekeer en vir ondervraging na die polisie gebring.

Meer oor:  Plaasaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.