Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vryheid-moorde: Verdagte was glo werker van familie
Die Van Rooyen-gesin: Billy, Karlien en hul seuns Lodewyk (teen Billy se skouer) en Izak (voor). Foto: Verskaf

Een van die agt mans wat in aanhouding is ná die moord op Billy van Rooyen (38) en sy skoonpa, Ronnie Lombard (62), is na bewering ’n voormalige veiligheidswag en werknemer van die Van Rooyen-familie. ’n Ander man is tans ’n veiligheidswag op die familie se plaas buite Vryheid in KwaZulu-Natal.

Van Rooyen en Lombard is Dinsdagaand aangeval en vermoor.

’n Plaaslike polisielid, wat anoniem wil bly, sê die mans is nog nie ondervra nie. “Dit sal vandag (Donderdag) gedoen word,” sê die polisielid.

Hy sê hulle wag vir die geweldsondersoek-en-misdaadeenheid van Richardsbaai om hulle met die ondervraging by te staan.

“Daar is nog geen bewyse teen die mans nie. As daar teen die einde van die dag nog niks teen een van hulle gevind is nie, sal hulle volgens die 48-uur-aanhoudingsbeleid vrygelaat word.”

Die polisielid sê die twee veiligheidswagte sê stories stem ooreen. Volgens hom het die veiligheidswag wat nog op die plaas werk glo die veiligheidswag gebel wat voorheen daar gewerk het. Hy was in ’n nabye kroeg toe hy die oproep ontvang. Hy het glo vir hom gesê iets het op die plaas gebeur en hulle moet die kroeg toemaak en huis toe gaan.

Die kroeg is blykbaar gesluit waarna ses ander mans, wat ook in die kroeg was, in een motor op pad huis toe deur die boere afgetrek is. Die twee veiligheidswagte is onderskeidelik kort daarna te voet aangekeer.

“Ons is besig om die twee veiligheidswagte se selfoonrekords na te gaan om te sien of hul stories bewys kan word,” sê die polisielid.

Hy sê daar is wel iets nie lekker met ’n paar van die ander mans se stories nie.

Minstens tien aanvallers met AK74’s en haelgewere het vier huise op die Van Rooyen-familieplaas deels omsingel voordat hulle die pa en oupa doodgeskiet het.

Billy, die pa van twee klein seuntjies, het Dinsdagaand geluide gehoor en uitgegaan om te kyk wat aangaan.

Hy is twee keer in die bolyf geskiet.

Terwyl Karlien van Rooyen haar sterwende man in die huis probeer insleep het, het haar pa, Ronnie, uit sy huis 10 m van hulle s’n gehardloop gekom.

Hy is in die linkersy geskiet.

Billy is in die ambulans op pad hospitaal toe dood en Ronnie Woensdagoggend in die hospitaal.

Billy se pa, Lood, is met ’n geweer teen die voorkop en die wang geslaan. Hy is Woensdagoggend uit die hospitaal ontslaan.

Die groep mans het Karlien met gewere aangehou en vir die plaaswinkeltjie se kasregistersleutels gevra, waarna hulle ’n onbepaalde hoeveelheid geld gesteel het.

“Ons het nog geen wapens gekry nie, maar die saak word nog ondersoek,” sê die polisielid.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.