Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vrystaat-boere ly R7 m. se skade in Julie aan veediefstal

Boere in die Vrystaat het net in Julie vanjaar na raming meer as R7,4 miljoen se verliese gely weens die meer as 100 voorvalle van veediefstal wat in die provinsie voorgekom het.

Dit is volgens syfers van Vrystaat Landbou (VL) en die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO).

Foto ter illustrasie.Foto: Charles Smith

Dr. Jane Buys, VL se veiligheidsrisikoanalis, sê die bedrag verteenwoordig egter net gevalle waarvan die twee organisasies bewus is en is waarskynlik nie naastenby die totale hoeveelheid nie.

“Nie alle veediefstalsake word aangemeld nie.”

Volgens VL en die RPO se inligting is 1 831 stuks vee in ’n 118 voorvalle in Julie op landbougrond in die provinsie gesteel. Die voorvalle het in 36 Vrystaatse dorpe en gebiede voorgekom.

Die dorpe wat die meeste deurgeloop het, sluit Bethlehem (15 voorvalle) en Paul Roux (11) in. Die ander plekke waar vyf of meer voorvalle voorgekom het, is Clocolan (5), Fouriesburg (5), Hobhouse (5), Kestell (5), Reitz (7) en Reddersburg (5).

“Die groot getalle vee wat gesteel is en voorvalle wat voorgekom het, wys weer eens dat veediefstal op ’n georganiseerde wyse deur groepe en sindikate uitgevoer word,” sê Buys.

“Van die 1 831 stuks vee wat gesteel is, is slegs 281 teruggevind. Dit kom neer op verliese van 1 550 stuks vee op 36 dorpe in Julie.”

In tien van die sake wat in Julie 2019 aangemeld is, is die getal vee wat gesteel is nie aangemeld nie en in 61 van die sake is meer as vyf beeste of skape in een voorval gesteel.

Volgens Buys word boere weer versoek om gereeld, op ’n daaglikse basis, hul vee te tel.

“Hulle moet ook seker maak hul diere is gebrandmerk, veral jonger vee, dat hulle oor ’n brandmerksertifikaat beskik en dat hul kontakbesonderhede en brandmerke by die Registrateur van Diere-identifikasie bevestig is.”

Verder moet hulle so vinnig as moontlik enige diefstal by die polisie aanmeld en inligting oor hul diere op veiligheidsgroepe op WhatsApp versprei. Boere moet ook seker maak dat hulle saaknommers, ook wanneer gesteelde vee teruggevind is, van die polisie kry.

Boere word verder aangemoedig om veediefstal-inligtingsentrums in gebiede met ’n hoë voorkoms van veediefstal te stig. Die sentrums kan voor of ná ’n landelike veiligheidsvergadering bymekaarkom om spesifieke besonderhede oor veediefstal aan alle rolspelers deur te gee.

  • In April is 101 voorvalle van veediefstal in die Vrystaat aangemeld en 1 139 stuks vee is gesteel.
Meer oor:  Vrystaat Landbou (Vl)  |  Vrystaat  |  Veediefstal  |  Landbou  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.