Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vrystaat word gestroop van al wat metaal is

As dit van metaal is en dit kan afgesny, losgedraai, afgekap of losgebreek word, dan kry dit voete in die Vrystaat.

In Virginia se nywerheidsgebied word geboue wat nog in gebruik is, oornag gestroop en nie eens lamppale op die N1 is meer veilig nie.

Clynton More, ’n sakeman van Virginia, sê skrootdiewe het die afgelope jaar ’n gebou wat hy nog gebruik het, stuk vir stuk afgebreek.

Clynton More, ’n sakeman van Virginia, by ’n gebou wat diewe gestroop het terwyl hy dit nog gebruik het.Foto: Alet van der Walt

Die diewe het in die nag die sinkdak verwyder, maar later selfs bedags op die perseel rondgeloop, op soek na metaal wat hulle kan verkoop, sê hy.

“Die versekeraars wou ná die derde keer nie weer die diefstal-eis betaal nie en ek het self die laaste metaalstutte verwyder nadat ons die sinkplate vier keer vervang het,” sê More.

“Dit is soos die Wilde Weste hier by ons,” sê More, wat al uit frustrasie op die diewe geskiet het.

Hy sê jong kinders van 11 jaar oud is betrokke by misdaad en dit is lankal nie meer onwettige mynwerkers wat steel nie, dit is meestal werklose plaaslike inwoners.

Kabeldiewe het lamppale op die N1 by Ventersburg afgesaag om die elektriese kabels te steel.Foto: Alet van der Walt

In Junie het kabeldiewe minstens 20 lamppale in en om Ventersburg teen die grond afgesaag en die koperkabels daaruit gesteel. Van dié pale is op die N1 waar die snelweg deur die dorp loop.

Op Hennenman is winkels se advertensieborde by die dorpsingang gesteel en die gemeenskapsentrum is so geplunder dat dit nie meer gebruik kan word nie.

Daar is nie meer kragkabels nie en die waterpype is ook gesteel.

Thinus Barnard van Bothaville se buurtwag sê diewe steel enige metaalvoorwerp op Bothaville en die omliggende plase.

Dit is al wat van ’n onderneming in Virginia se nywerheidsgebied oor is. Diewe het al die staal uitgekap en weggedra en net bourommel is agtergelaat.Foto: Alet van der Walt

Desmond Reed, ’n raadslid van Wesselsbron, sê die afgelope twee maande loop die dorp erg onder diewe deur.

“Hulle steel ordentlik, hulle steel alles,” sê hy.

Kragkabels, advertensieborde en heiningpale word gesteel.

Reed sê die afgelope naweek is elektriese kabels uit lamppale op Wesselsbron gesteel.

Ook in Parys gaan dit nie beter nie en inwoners kla gereeld op sosiale media oor diewe wat selfs helder oordag koperpype by huise steel.

Die sinkdakke, waterpype en koperkabels van onbewoonde huise word stuk vir stuk weggedra en die metaalstutte van Parys se historiese hangbrug is onlangs gesteel.

Bokvel Pietersen van die Matjhabeng-munisipaliteit sê meer as R50 miljoen se munisipale eiendom is sedert Mei vanjaar al gesteel of beskadig.

Dit sluit koperkabels, kopergeleiers, waterpype, heinings en selfs koperpype binne munisipale geboue in.

Pietersen sê soos More, dit is nie net die sogenaamde zama-zamas wat skrootmetaal in die Goudveld steel nie, maar ook plaaslike werkloses.

Kapt. Stephen Thakeng, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig dat heelwat munisipale eiendom die afgelope tyd in Welkom gesteel is.

Verkeerstekens en advertensieborde word gereeld buite dorpe gesteel. Foto: Alet van der Walt
Meer oor:  Vrystaat  |  Virginia  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.