Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vrystaatse byeboer en vrou aangeval en beroof

’n Egpaar van ’n plaas buite Ficksburg is Sondagaand beseer toe drie aanvallers met ’n vuurwapen, ’n byl en ’n mes op hulle toegeslaan en hulle beroof het.

Volgens brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, is die polisie kort ná 19:25 van die aanval op Jasco en Maria Dinkelman in kennis gestel.

Dinkelman is ’n byeboer wat tussen Rosendal en Ficksburg op die plaas Driefontein van Jaco Loots boer.

Jasco Dinkelman, ’n byeboer, is saam met sy vrou, Maria, op ’n plaas aangeval. Foto: Facebook

Makhele sê volgens Dinkelman het sy vrou oudergewoonte om 19:25 gaan seker maak dat ’n skuifdeur en ’n veiligheidsdeur gesluit is.

“Sy was verbaas om te sien dat die deure oop is, waarna drie mans op haar afgestorm het,” sê Makhele.

Een van die aanvallers het ’n vuurwapen op haar gerig, terwyl die ander twee met ’n byl en ’n mes gewapen was.

Maria Dinkelman Foto: Facebook

Makhele sê die aanvallers het haar na die hoofslaapkamer gedwing.

Dinkelman wou tussenbeide tree, maar hy is in sy linkerhand en nek met die mes gesteek. Maria is ook met die mes in haar nek gesteek.

Volgens Makhele het die mans geld en vuurwapens geëis.

Die egpaar het hulle meegedeel dat daar nie vuurwapens in die huis is nie en R26 000, wat in die kluis was, aan hulle oorhandig. ’n Samsung-tabletrekenaar en ’n selfoon is ook gesteel.

Makhele sê lede van landelike beveiliging en die polisie het kort daarna by die huis opgedaag.

Die egpaar is na die hospitaal geneem, maar is intussen ontslaan.

Makhele sê niemand is nog in hegtenis geneem nie en die polisie ondersoek klagte van roof en poging tot moord.

• Catherine Cairns van Ficksburg is op 6 Julie op haar plaas aangeval en beroof, en deur die nag deur haar aanvallers aangehou.

Lees ook: Ficksburg: Mans hou vrou heelnag aan, soek R4 m.

Die polisie het ook op 6 Julie ’n plaasaanval buite Heilbron voorkom, terwyl Juanita Swanepoel van Vierfontein op 9 Julie op ’n plaas aangeval is terwyl haar man, Gert, in die hospitaal was.

Lees ook: Boervrou met Covid-19 veg teen plaasaanvallers

Meer oor:  Ficksburg  |  Misdaad  |  Rooftog  |  Plaasaanval  |  Polisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.