Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
VS-polisie trek 669 onwettige myners vas

Die polisie in die Vrystaat het reeds 669 onwettige myners in die provinsie se Goudveld aangekeer tydens verskeie operasies waarin beamptes selfs in die myne ingegaan het.

Sam Mashinini, LUR vir polisie, paaie en vervoer in die Vrystaat, en lt.genl. Moeketsi Sempe, provinsiale polisiehoof, spreek die media toe tydens ’n vorige mediakonferensie by die polisie se provinsiale hoofkantoor in Bloemfontein. Foto: André Damons

Die polisie, in samewerking met die Valke, die veiligheidsafdeling van Harmony Gold en die departement van polisie, paaie en vervoer, het op 1 Julie vanjaar met Operasie Knock Out in Thabong en Welkom begin.

Eenhede van die polisie wat betrokke is, is dié van taktiese reaksie, openbare orde, misdaadintelligensie en misdaadopsporing.

Dié multidissiplinêre operasie met vier fases gaan steeds voort en fokus nie net op onwettige myners nie, maar ook op vuurwapens, dwelms, mensehandel en ernstige en gewelddadige misdade wat met onwettige mynbou verband hou, sê lt.genl. Moeketsi Sempe, provinsiale polisiehoof van die Vrystaat.

Volgens hom het die operasie gehelp om die onwettige mynbedrywighede “tot op sy knieë te bring”.

“Van die operasionele ingrypings was lewensgevaarlik. Die beamptes het tuisgemaakte ploftoestelle en dreigbriewe ondergronds gekry, maar dit het hulle nie van stryk gebring nie.

“Van die mense wat gevang is, was twee polisiebeamptes en ’n gewese polisiebeampte. Die beamptes is reeds ontslaan,” sê Sempe.

Sam Mashinini, LUR vir polisie, paaie en vervoer in die provinsie, sê die polisie moet soos die onwettige myners genadeloos wees wanneer hulle met die misdadigers werk.

“Ons gaan aanhou en ons gaan nie gekeer word nie. Ons gaan ondergrond gaan en die misdadigers uitdryf. Ons gaan die gebied veilig maak.

“Die dreigbriewe gaan ons nie keer nie. Ons het vordering gemaak, maar ons moet seker maak ons bly in die omgewing. As jy deel is van dié dinge, gaan ons sonder genade met jou afreken.”

Sempe wou Woensdag nie veel oor hul operasionele planne bekend maak nie en wou ook nie sê hoeveel beamptes deel van die operasie is nie.

Ons het vordering gemaak, maar ons moet seker maak ons bly in die omgewing.

“Ons weet wie die base is. Dit is deel van die volgende twee fases van die operasie.”

Van die operasies wat die span uitgevoer het, sluit in 137 bogrondse operasies, 60 gevaarlike ondergrondse operasies, 46 stop-en-deursoek-operasies, 62 soek-en-beslagleggingsoperasies en 24 operasies om vervalste goedere op te spoor en te konfiskeer.

Dié operasies het daartoe bygedra dat 669 mense vir verskeie misdade aangekeer is, wat 399 onwettige buitelanders insluit.

Die sake wat ondersoek word, is 432 vir die betreding van myne, 123 vir die besit van gouddraende materiaal, sewe vir die onwettige besit van ’n vuurwapen, 11 vir die onwettige besit van ammunisie, tien vir die besit van gesteelde eiendom, 62 vir diefstal, 14 vir korrupsie en 24 vir die besit van vervalste goedere.

Daar is ook beslag gelê op byna R6 miljoen se goedere, insluitende gouddraende materiaal (R965 508), vervalste goedere (meer as R3 miljoen), selfone, gesteelde goedere, plofstof, geld, voertuie, vuurwapens en ammunisie en gereedskap.

Meer oor:  Harmony Gold  |  Sam Mashinini  |  Welkom  |  Thabong  |  Onwettige Myners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.