Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vyf dood in kerk-drama

Minstens vyf mense is dood in ’n gyseldrama wat hom Saterdag by ’n kerk aan die Wes-Rand afgespeel het.

Die polisie sê vier mense is met koeëlwonde in ’n uitgebrande motor by die International Pentecost Holiness Church (IPHC) in Zuurbekom gekry.

Die vyfde oorledene is ’n veiligheidswag wat op die skietery gereageer het.

Die polisie het in samewerking met die weermag meer as 40 mense in hegtenis geneem en beslag gelê op verskeie vuurwapens wat glo gebruik is in wat lyk na ’n stryd om beheer van die kerk. “Ek is seker die vinnige reaksie deur die gesamentlike veiligheidsmagte het ’n selfs nog erger slagting gekeer,” het genl. Khehla Sitole, nasionale polisiehoof, gesê.

’n Bejaarde vrou het aan Rapport se susterkoerant, City Press, vertel die aanval het kort ná 03:00 begin.

“Hulle het in die vroeë oggendure ingekom en deure begin afskop en geskreeu. Ons was so bang, ons het nie geweet wat om te doen nie. Hulle het my hande agter my rug vasgemaak. Ek was nog nooit in my lewe so bang nie.”

Nóg ’n lidmaat, Abraham Mokwana, het gesê hy is met ’n piksteel geslaan.

“Ek kon niks doen nie, want ons het nie verwag iemand sou ons dié tyd van die nag kom aanval nie.”

Brig. Vishnu Naidoo, Sitole se woordvoerder, sê die aanvallers het aangekondig hulle neem die perseel oor.

Luidens berigte is daar al sedert 2016 verdeeldheid in die kerk oor ’n opvolger ná die dood van die kerk se stigter en leier, Comforter Glayton Modise.

In November 2018 is drie mense in ’n skietgeveg daar gewond.

Saterdag was bloedvlekke op die teerpad buite die ingang te sien en klere het in die straat gelê. By die hoofhek het ’n bus vol koeëlgate gestaan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.