Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
W-Kaapse gesondheid-stelsel steier onder geweld

Die gesondheidstelsel in die Wes-Kaap steier onder die druk van ’n toename in moorde en skietwonde, wat die lewering van dienste aan ander pasiënte negatief raak.

Dr. Nomafrench Mbombo, LUR vir gesondheid, het Donderdag op ’n mediakonferensie oor die uitwerking van die geweld op gesondheidsdienste gesê die provinsie se begroting kan nie byhou met ’n groeiende bevolking, instroming uit ander provinsies, hoë mediese inflasie en die las van geweld daarby nie.

Die provinsiale departement van gesondheid het in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad gewys hoe die behandeling van skietwonde die gesondheidstelsel, wyer dienslewering en die dokters self raak.

Nog ’n kommerwekkende tendens is die toename in pasiënte met veelvuldige skietwonde, wat mediese behandeling nog ingewikkelder gemaak.

Dr. Nomafrench Mbombo, LUR vir gesondheid, Donderdag by ’n mediavergadering oor die uitwerking van skietwonde op gesondheidsdienste in die Wes-Kaap. Foto: Malherbe Nienaber

“Skadebeheer chirurgie”

Prof. Andrew Nicol, hoof van Groote Schuur se traumasentrum, sê ’n soort “skadebeheerchirurgie” is ontwikkel met kort operasies om die bloeding stop te sit en die pasiënt ten alle koste aan die lewe te hou.

Nadat die bloeding met kramme, omleidings en pypies gekeer is, word die pasiënt na die waakeenheid oorgeplaas om gestabiliseer te word en word daar ná 24 uur weer geopereer om die wonde verder te behandel.

Pasiënte kan dan binne dae of enkele weke ontslaan word, sê Nicol.

“Dit is ’n groot vooruitgang in traumasorg en stel die traumasentrum in Groote Schuur in staat om ’n oorlewingskoers vir dié wonde te behaal wat vergelykbaar is met ’n vlak 1-traumasentrum in Amerika.”

Prof. Andrew Nicol, hoof van die Groote Schuur-hospitaal se traumasentrum. Foto: Malherbe Nienaber

’n Profiel van die sterftes in die Wes-Kaap in 2016 het aangedui dat die moordsyfer onder mans op 96 sterftes per 100 000 staan. Dit kom neer op ’n toename van 38% sedert 2010 en word aan ’n toename in sterftes weens skietvoorvalle toegeskryf.

Beserings het 14% (6 770) van alle sterftes in 2016 opgemaak, waarvan meer as 80% mans is, veral tussen die ouderdomme van 20 en 39 jaar. Onder die 6 770 sterftes weens beserings was daar 2 285 (51%) moorde en meer as die helfte van die mense het positief vir alkohol getoets.

By die Groote Schuur-hospitaal het die hoeveelheid mense wat met skietwonde opgeneem is met 100% gestyg oor die afgelope agt jaar.

In 2012 is in ’n opname in die traumasentrum bevind dat gemiddeld 37 pasiënte met skietwonde per maand behandel word. Dié syfer het nou tot 73 per maand toegeneem.

Sedert begin vanjaar het die Tygerberg-hospitaal ook gemiddeld 107 pasiënte met skietwonde per maand opgeneem. Hoewel skietwonde by ander hospitale behandel word, is dié hospitale die twee groot traumasentrums.

In die boekjaar 2018-’19 het 80,76% van sterftes weens geweld in die Kaapstadse metro voorgekom, met Khayelitsha (318), Parow (242) en Delft (239) as die drie voorstede met die meeste sterftes.

Volgens die departement werk sy noodsentrums meestal teen meer as 100% van hul kapasiteit, terwyl die getal noodbesoeke by streeks- en distrikshospitale in die metro van 186 425 in 2008 tot 382 132 in 2018 gestyg het.

Lede van die Wes-Kaapse mediese nooddienste (EMS) haal ’n draagbaar uit ’n ambulans. Die EMS-dienste in die provinsie is onder hewige druk weens die toename in skietwonde en aanvalle op personeel.

Ander dienste ly ook

Mbombo het benadruk dat al hoe meer van haar departement se begroting aan misdaad afgestaan moet word, terwyl die toenames in finansiering van die nasionale regering nie op werklike toenames in randwaardes neerkom nie.

Hospitale word ook oorweldig deur noodgevalle wat veroorsaak dat die behandeling van minder ernstige gevalle en ander chirurgie onderbreek of vertraag word.

“Dan kry ons klagtes dat mense ure lank moet wag in hospitale of dat hulle op die vloer moet sit of dat daar nie genoeg beddens is nie, maar dit is wat gebeur weens die huidige stand van sake.”

Dit is egter nie net hospitale wat onder druk is weens die toename in skietwonde nie, maar ook die forensiese patologiedienste, mediese nooddienste en rehabilitasiesentrums vir beseerdes.

Die werklas vir die forensiese patologiedienste het in die laaste paar jaar met 17% toegeneem, waarvan sterftes weens skietvoorvalle sowat die helfte uitmaak.

In 2018 is 11 930 lyke ontvang, met 4 170 onnatuurlike sterftes waaronder 2 029 (48,6%) aan skietwonde toegeskryf is. Sedert Januarie is 5 840 lyke al ontvang, onder meer 1 993 sterftes weens geweld wat lykskouings vereis het, met 1 100 sterftes weens skietwonde en 893 weens steekwonde.

Nog ’n las op die forensiese patologiedienste is die getal lyke wat nie uitgeken is nie, wat ’n gemiddeld van 420 gevalle in die laaste paar maande beloop.

Geweld raak ook die mediese nooddienste se reaksietyd, veral as ’n gebied tot ’n brandpunt verklaar is en die polisie eers ambulanse moet begelei om aanvalle op personeel te verhoed.

In 2018-’19 kon net 27% van gevalle van die hoogste prioriteit (P1) binne ’n kwartier bereik word en tot dusver in 2019 het dit tot 12% gedaal. Dit word regstreeks aan voorvalle toegeskryf in gebiede wat te onveilig is en die nooddienste dit nie kan binnegaan totdat die polisie opdaag om hulle te vergesel nie.

Die meeste paraplegiese en kwadruplegiese pasiënte wat in die Wes-Kaapse rehabilitasiesentrum behandel word, het ook ’n traumatiese voorval deurgemaak, grootliks weens ’n skietwond, steekwond of vervoerverwante besering. Selfs nadat hulle ontslaan is, gaan hulle gesondheidsdienste vir die res van hul lewe benodig.

Die koste kan nie bereken word

Dr. Beth Engelbrecht, hoof van die Wes-Kaapse departement van gesondheid. Foto: Malherbe Nienaber

Dr. Beth Engelbrecht, hoof van die departement, het daarop gewys dat die werklike koste van geweld en skietwonde vir gemeenskappe nie bereken kan word nie.

“Veral omdat mans die grootste deel van slagoffers uitmaak, beteken dit dat kinders sonder ’n pa grootword of dat ’n seun nie meer daar is om vir sy ouers te sorg nie.

Onskuldige mense word ook in die kruisvuur gewond en moet dan behandel word.”

Verder moet pasiënte met toestande wat nie hul lewe onmiddellik bedreig nie, opsy staan vir diegene met skiet- en steekwonde en langer wag vir sorg, veral oor naweke.

Die werkslas van forensiese patoloë lei ook daartoe dat dit langer neem om lyke aan families vir begrafnisse te oorhandig.

“Nog belangriker, is die feit dat elke sent wat op die behandeling van die gevolge van interpersoonlike geweld bestee word, op die behandeling van babas, swanger vroue of bejaardes bestee kon word.”

Mary Bruce van Hanover Park, Kaapstad, vertel van haar ervaring nadat sy in die been geskiet is en in die Groote Schuur-hospitaal opgeneem is. Foto: Malherbe Nienaber

Mary Bruce (48) van Hanover Park, Kaapstad het ook vertel van haar ervaring nadat sy verlede maand buite haar huis raakgeskiet is in die kruisvuur van bendes terwyl sy bloot haar wasgoed opgehang het.

Sy het die personeel van die Groote Schuur-hospitaal vir hul sorg bedank en gesê dit is danksy hulle dat sy nog ’n ’n linkerbeen het. Sy het boonop haar seun vyf jaar gelede ook in ’n bendeverwante skietvoorval verloor.

“Die geweld het nie opgehou sedert ek geskiet is nie en dit is heeltemal buite verhouding. Op dieselfde dag as waarop ek geskiet is, is ’n ander ma ’n paar meter weg van my ook in ’n skietery gewond. Soos wat julle die reën buite kan hoor, so klink die koeëls vir ons.”

Bruce sê egter dié terugslag gaan haar nie keer om verder met die jeug in haar gebied te werk en hulle te probeer weglei van bendes af nie.

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Misdaad  |  Geweld  |  Gesondheidsdienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.