Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
W-Kaap het weer hoogste syfers vir sekere misdade

Die jongste misdaadstatistieke wat Donderdag in die parlement bekend gemaak is, wys dat die Wes-Kaap die meeste gekonsentreerde punte van sommige ernstige misdade het, wat moord, poging tot moord, roof, kapings en dwelmverwante misdaad insluit.

Bheki Cele, minister van polisie, Donderdagoggend met die bekendstelling van die misdaadsyfers vir die boekjaar 2018-’19 in die parlement. Foto: Jaco Marais

Spesifieke polisiekantore in die provinsie het ook die meeste sake van brandstigting, saakbeskadiging en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie ondersoek.

Die polisie se topbestuur het Donderdagoggend met die bekendstelling van 2018-’19-misdaadsyfers aangedui dat 19 van die top-30-polisiekantore, waar die meeste misdade aangemeld is, in Gauteng en sewe in die Wes-Kaap is.

Moord: Nyanga

Nyanga in Kaapstad is weer eens die polisiekantoor waar die meeste moorde in die land aangemeld is, hoewel die aantal moordsake van 308 tot 289 (met 6,2%) gedaal het.

Die ander polisiekantore onder die toptien met die meeste moorde is Delft (247), Khayelitsha (221), Inanda in KwaZulu-Natal (209), Philippi-Oos (185), Mthatha in die Oos-Kaap (181), Umlazi in KwaZulu-Natal (180), Harare (166), Plessislaer in KwaZulu-Natal (166) en Guguletu (155).

Poging tot moord: Bishop Lavis

Bishop Lavis in Kaapstad het die meeste sake van poging tot moord in die land en dit het van 156 tot 251 sake in 2018-’19 (met 60,9%) gestyg.

Die res van die top-tien-polisiekantore wat pogings tot moord-sake betref, is Gelvandale in die Oos-Kaap (228), Bethelsdorp in die Oos-Kaap (226), Mitchells Plain (213), Delft (194), Umlazi in KwaZulu-Natal (188), KwaMashu in KwaZulu-Natal (186), Elsiesrivier (175), Nyanga (164) en Khayelitsha (153).

Roof met verswarende omstandighede: Nyanga

Onder die top-tien-polisiekantore met sake van roof met verswarende omstandighede is Nyanga tweede met 1 548 sake, Khayelitsha derde met 1 419 sake en Mitchells Plain negende met 912 sake.

Kaapstad-Sentraal het die tweede meeste sake van gewonde roof (1 070), ná Johannesburg-Sentraal (1 285), en die syfer het in vergelyking met die vorige boekjaar met 9,2% afgeneem.

Kapings: Nyanga

Nyanga (273) het die meeste sake van motorkaping, terwyl Delft (157) vyfde en Guguletu (153) sewende is.

Dwelms: Mitchells Plain

Agt uit die top-tien-polisiekantore met sake van dwelmverwante misdaad is in die Wes-Kaap, insluitend die top-vier van Mitchells Plain (3 475), Kraaifontein (2 972), Delft (2 831) en Atlantis (2 819).

Worcester (2 361) is sesde, Kaapstad-Sentraal (2 313) sewende, Lentegeur (2 064) agste en Nyanga (1 956) tiende.

Onwettige vuurwapens: Mitchells Plain

Vyf van die top-tien-polisiekantore met sake van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie is in Kaapstad, waarvan Mitchells Plain (243), Delft (225) en Bishop Lavis (214) wat die top-drie uitmaak.

Nyanga (144) is ook sesde en Khayelitsha (125) sewende.

Diefstal uit motors: Kaapstad-Sentraal

Kaapstad-Sentraal (3 710) is ook die polisiekantoor met die meeste sake van diefstal uit motors. Stellenbosch (1 335) het die vyfde meeste sake, en Bellville (1 176) is tiende op die lys.

Verkragting

Delft (224) en Nyanga (217) in Kaapstad het die vyfde en sesde meeste sake van verkragting in die land gehad en die aantal sake het by albei polisiekantore toegeneem.

Agt van die top-tien-polisiekantore wat sake van seksuele aanranding ondersoek het, is in Kaapstad: Mitchells Plain (66), Nyanga (57), Guguletu (45), Manenberg (45), Mfuleni (43), Kleinvlei (42), Bishop Lavis (41) en Delft (41).

Aanranding, brandstigting en saakbeskadiging

Mitchells Plain (1 661), Worcester (1 158) en Kraaifontein (1 113) is ook die top-drie-kantore met die meeste sake van gewone aanranding, terwyl Delft (1 039) en Mfuleni (1 020) agtste en negende is.

Khayelitsha (32), Delft (31) en Kleinvlei (30) in Kaapstad is die drie polisiekantore met die meeste sake van brandstigting en Mfuleni (26) en Nyanga (26) is sewende en agtste.

Onder die top-tien-polisiekantore wat sake van kwaadwillige saakbeskadiging ondersoek het, is agt in die Wes-Kaap en sewe in Kaapstad.

Dit is Mitchells Plain (1 047), Delft (894), Nyanga (869), Bishop Lavis (761), Elsiesrivier (735), Kraaifontein (727), Worcester (694) en Mfuleni (687).

Provinsiale syfers

Die aantal moordsake in die provinsie in geheel het in die boekjaar 2017-’18 tot 2018-’19 van 3 729 tot 3 974 (met 6,6%) toegeneem.

Sake van poging tot moord het ook in die afgelope boekjaar van 3 698 tot 3 860 (met 4,4%) gestyg.

Verder het sake van aanranding met opset om ernstig te beseer met 3,8% toegeneem, seksuele aanranding met 2,7%, motorkaping met 5,1%, brandstigting met 10% en kwaadwillige saakbeskadiging met 1,8%.

Sake van gewone roof het egter met 5,4% gedaal, verkragting met 2%, die onwettige besit van vuurwapens met 8% en die dwelmverwante misdaad met 30,6%.

Inbrake by nie-residensiële persele het ook met 5,9% afgeneem, inbrake by woonpersele met 7,6%, diefstal van motors en motorfietse met 4,4% en diefstal uit motors met 4%.

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Kaapstad  |  Misdaadstatistieke  |  Dwelmverwante  |  Roof  |  Kapings  |  Moord  |  Poging Tot Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.