Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
W-Kaap se misdaadsyfers effens laer as vorige jaar

Die Wes-Kaap het steeds van die polisiekantore waar landwyd die meeste moorde, seksuele aanranding en kwaadwillige beskadiging van eiendom aangemeld is, luidens die jongste misdaadsyfers wat Vrydag bekend gemaak is.

Delft en Khayelitsha is nou die twee polisiekantore in die land waar die meeste moorde aangemeld is, gevolg deur Inanda en Umlazi in KwaZulu-Natal en Nyanga in Kaapstad in die vyfde plek.

Algeheel was daar egter ’n afname in misdade wat aangemeld is tussen 1 April 2019 en 31 Maart 2020 vergeleke met die vorige vergelykende tydperk. Daar is egter wel meer seksuele misdade aangemeld.

Die getal moorde in die provinsie het van 3 794 in 2018-’19 tot 3 975 in die afgelope boekjaar gestyg.

Sake van poging tot moord het van 3 860 in 2018-’19 tot 3 555 gedaal.

Seksuele misdade wat aangemeld is, het van 7 043 tot 7 303 toegeneem.

Dit sluit in verkragting (’n styging van 4 649 tot 4 877) en seksuele aanranding (’n styging van 1 757 tot 1 910).

Sake van aanranding met die doel om ernstig te beseer en gewone aanranding het teenoor 2018-’19 afgeneem, terwyl sake van gewone roof en roof met verswarende omstandighede toegeneem het.

Kontakmisdade het in geheel effens gedaal van 113 987 tot 113 508 in 2019-’20.

Motorkapings het van 2 294 tot 2 760 toegeneem en vragmotorkapings van 117 tot 129.

Brandstigting het van 842 tot 749 gedaal en kwaadwillige saakbeskadiging van 28 514 tot 27 088.

Rooftogte by woonerwe het van 2 749 tot 2 414 gedaal en transitorooftogte van 15 tot 12.

Rooftogte by nieresidensiële persele het egter van 1 689 tot 1 879 sake in 2019-’20 gestyg.

Inbrake by woonerwe en nieresidensiële persele het albei afgeneem teenoor 2018-’19, sowel as diefstal van voertuie en vanuit voertuie.

Veediefstalsake het egter van 975 tot 1 011 gestyg.

Handelsmisdade het van 13 451 tot 13 599 toegeneem en winkeldiefstal van 12 932 tot 13 165.

Sake van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie het van 3 149 tot 2 961 gedaal en dwelmverwante misdade van 81 344 tot 62 708.

Sake van bestuur onder die invloed van drank of dwelms het van 12 561 tot 12 340 afgeneem.

Misdade wat as gevolg van polisieoptrede opgespoor is, het van 97 223 tot 78 174 gedaal.

Toptien polisiekantore

Ses van die tien polisiekantore waar die meeste moorde in 2019-’20 aangemeld is, is in Kaapstad, met Delft (265) en Khayelitsha (251) wat voorloop.

Nyanga (185), Mfuleni (165) en Harare (162) is vyfde tot sewende, gevolg deur Plessislaer in KwaZulu-Natal (161) en Mthatha in die Oos-Kaap (159) en Gugulethu in Kaapstad (157), wat tiende is.

Vyf van die polisiekantore met die meeste sake van poging tot moord is ook in Kaapstad, waarvan Delft (204) en Mitchells Plain (202) tweede en derde is.

Khayelitsha (146) het die sesde meeste sake van poging tot moord en Elsiesrivier (137) en Philippi-Oos (129) is negende en tiende.

Delft is ook die polisiekantoor met die derde meeste sake van seksuele misdade (291) en Nyanga (242) en Mfuleni is ook onder die toptien polisiekantore vir dié sake.

Delft (224) en Nyanga (198) het die sesde en sewende meeste sake van verkragting.

Agt van die tien polisiekantore met die meeste sake van seksuele aanranding is in Kaapstad, met Mitchells Plain (83) wat eerste is, gevolg deur Delft (54), Manenberg (50), Mfuleni (50), Kaapstad-Sentraal (46), Kleinvlei (45), Bishop Lavis (44) en Gugulethu (43).

Die ander twee is Bethelsdorp (39) in die Oos-Kaap en Kwadukuza in KwaZulu-Natal (39).

Nyanga (1 368) en Khayelitsha (1 335) het die tweede en derde meeste sake van roof met verswarende omstandighede

Kaapstad-Sentraal (1 184) het die meeste sake van gewone roof gehad en Mitchells Plain (555) is sewende.

Vyf van die tien polisiekantore met die meeste sake van gewone aanranding is ook in die Wes-Kaap, met Mitchells Plain (1 770) in die eerste en Delft (1 163) in die derde plek. Dit word deur Worcester (1 109) en Mfuleni (1 091) gevolg, en Kraaifontein (1 057), wat sewende is.

Delft (47) en Harare (28) is eerste en derde onder die tien polisiekantore met die meeste sake van brandstigting.

Sewe van die tien polisiekantore met die meeste sake van kwaadwillige saakbeskadiging is in die Wes-Kaap en Mitchells Plain is eerste met 1 029.

Dit word gevolg deur Delft (827), Mfuleni (789), Elsiesrivier (671), Kraaifontein (662), Bishop Lavis (650) en Worcester (627), wat agste is.

Kaapstad-Sentraal (3 750) het die meeste sake van diefstal uit voertuie en Stellenbosch (1 267) is sesde.

Die meeste sake van motorkaping is in Nyanga (383) aangemeld, met Philippi-Oos (214) wat derde is, Harare (186) vyfde, Khayelitsha (180) sesde en Gugulethu (172) tiende.

Vyf van die tien polisiekantore met die meeste sake van winkeldiefstal is in Kaapstad, onder meer Kaapstad-Sentraal (568) wat sesde is, gevolg deur Bellville (555), Mitchells Plain (517), Milnerton (509) en Delft (506).

George (362) is agste onder die tien polisiekantore met die meeste sake van inbrake by nieresidensiële persele.

• Die misdaadsyfers vir 2019-’20 is op die polisie se webwerf beskikbaar:

https://www.saps.gov.za/services/crimestats.php

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Misdaadsyfers  |  Laer  |  Effens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.