Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Hoe kan dit normaal wees? vra Imaan (7) se familie

Sy was soos enige ander sewejarige meisie, mal oor mooi klere, grimering, handsakke, musiek en dans.

Imaan Solomons is Dinsdag deur die koeëls van strydende bendes in Ocean View getref.

Vir haar twee tannies, Natalie Solomons en Lee Solomons, het Imaan Solomons (7) altyd gesê sy wil ’n “beautanicist” (haar woord vir ’n skoonheidsdeskundige) word.

Vir Imaan sal hierdie droom egter nooit waar word nie.

Sy is Dinsdag omstreeks 18:00 drie keer in haar bors getref deur die koeëls van strydende bendes in Ocean View naby Kommetjie buite Kaapstad.

Sy het in die voorerf van haar ouerhuis in Libraweg gespeel toe lede van die strydende Funkies en die Taylor Boys op mekaar begin skiet het.

Imaan was net op pad in huis toe, toe ’n vriend van haar tannies wat die skote gehoor het, van die rusbank binne die huis opstaan om te kyk wat aangaan.

By die voordeur het hy begin skreeu toe hy Imaan se liggaam op die grond sien lê met bloed wat uit haar bors kom.

Natalie kon nie bevestig hoeveel keer Imaan raakgeskiet is nie.

By die geel skakelhuis in Libraweg is Imaan se bloed met grond toegegooi. Daar is buite geen teken van die verlies wat die familie gely het nie. Binne die huis is die emosie egter byna tasbaar en die hartseer op haar familie se gesigte duidelik te siene.

Haar tannies noem haar hulle “selfie- en twerk-queen”. Daar is horde foto’s van Imaan op hul selfone, foto’s wat sy van haarself geneem het.

Imaan se ouers was nie by die huis tydens Netwerk24 se besoek nie. Hulle was by die staatslykhuis in Soutrivier waar hulle hul dogter se lyk gaan uitken het.

Sy is met haar aankoms by die hospitaal dood verklaar.
Behep met selfies soos enige sewejarige. Haar tannies het hordes foto’s wat sy van haarself geneem het op hul selfone.
Sy het daarvan gedroom om ’n skoonheidsdeskundige te word, want sy was mal oor grimering en mooi klere.

Lee, Imaan se ander tannie, sê sy was altyd liefdevol en het ’n droë sin vir humor gehad, veral vir iemand so jonk. “Maar sy was ook lekker vol moods. Ons moes gedurig vra Imaan is jy oukei, maar gelukkig het sy nooit lank kwaad gebly nie,” sê Lee laggend.

Die familie is baie kwaad vir die bendes wat die Ocean View-gemeenskap nou so te sê gevange hou.

Volgens die twee Solomons-susters begin mense om bendegeweld as normaal te aanvaar.

“Hoe kan dit normaal wees? Ons het ’n speelpark hier, maar ons kinders kan nie daar gaan speel nie, want die varke begin enige tyd, dag of nag, te skiet. Nou is dit nie eens meer veilig vir hulle om in die jaart te speel nie.”

Die susters sê dis ook nie weens die bendegeweld veilig vir mense om soggens na die taxi-staanplek of bushaltes te loop nie. Selfs skoolkinders moet volgens hulle koes-koes loop.

Imaan was ’n gr. 2-leerling aan die Primêre Skool Kleinberg in Ocean View.

Lee sê hulle het die polisie se noodnommer 10111 onmiddellik gebel. Hulle moes vyf minute na ’n boodskap luister. Daarna moes hulle noodgedwonge iemand na ’n polisielid wat in die buurt woon stuur en hom vra om die Ocean Voew-polisiekantoor te bel, want hul oproepe het onbeantwoord gebly.

Sowat tien minute later het twee polisielede by die huis opgedaag waar lede van die gemeenskap besig was om noodhulp op Imaan toe te pas. Nog tyd het verloop voordat die ambulansdienste opgedaag het.

Imaan Solomons het in haar gesin se voorerf gespeel toe sy Dinsdag deur strydende bendes raakgeskiet is. Foto: Maygene de Wee
Vriende van Abdul Felix, het nadat sy lyk gevind is, die hut waar hy geslaap het afgebreek. Foto: Maygene de Wee
Die lyk van ‘n swanger vrou wat ’n getuie in ‘n kaping- en moordsaak was, is ’n maand gelede hier, ’n hanetree van Abdul Felix se hut, gevind. Foto: Maygene de Wee
Die twee polisievoertuie het meer as twee uur voor die Ocean View-polisiekantoor gestaan. Foto: Maygene de Wee

Imaan is eindelik na die Valsbaai-hospitaal in Vishoek vervoer waar sy met haar aankoms by die hospitaal dood verklaar is.

In dié tyd het die polisie die lyk van ’n hawelose man in sy slaapplekkie in ’n veld naby Imaan se ouerhuis gekry. Abdul Felix (31) is twee keer in sy kop geskiet. Sy lyk is deur ’n vriend wat hom gaan soek het op sy bloedbevlekte matras aangetref.

Lede van die gemeenskap sê hoewel hy dwelms gebruik het, was Felix beslis nie deel van die bendes nie. Hulle vermoed hy het kennis gedra van iets wat hy nie moes weet nie.

“Hy is vermoor om sy mond te hou,” sê die inwoners.

Felix se lyk is ’n hanetree van die plek gevind waar ’n swanger vrou sowat ’n maand gelede vermoor is. Sy was ’n getuie in ’n voorval waar ’n man van Scarborough verlede jaar gekaap en vermoor is.

Brig. Novela Potelwa, provinsiale polisiewoordvoerder, het Woensdag die twee moorde bevestig. Sy sê lede van die openbare-orde- en bende-eenheid is na Ocean View ontplooi nadat ontstoke inwoners die plaaslike polisie Dinsdagaand begin aanval het. Volgens haar is hulle nog steeds in die omgewing waar hulle die situasie monitor. Met Netwerk24 se besoek was daar egter nie ’n enkele patrollerende voertuig in Ocean View sigbaar nie. Twee voertuie van die sigbare polisiëringseenheid het wel voor die Ocean View-polisiekantoor geparkeer gestaan.

Mense met inligting oor die voorvalle waarin Imaan en Felix vermoor is, kan die polisie se Stop Misdaad-intelligensiehoof by 0860 10111 kontak. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  Kommetjie  |  Kaapstad  |  Bendes  |  Bendegeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.