Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Wag in kop geskiet in transitorooftog aan Oos-Rand

’n Wag van die veiligheidsmaatskappy Fidelity ADT veg om sy lewe in die hospitaal nadat rowers hom in ’n transitorooftog in Germiston aan die Oos-Rand in die kop geskiet het.

Die toneel op die N3 by Germiston aan die Oos-Rand waar rowers Donderdagoggend op ’n geldwa van Fidelity ADT toegeslaan het.

Die geldwa het Donderdagoggend op die N3 gery toe dit voor 08:00 deur ’n Volkswagen Golf en ’n wit BMW naby die Leondale-afrit van die pad gedwing is.

’n Video wat op sosiale media versprei word, wys hoe vier rowers met aanvalsgewere by die geldwa doenig is. Skote kan gehoor word. Ná ’n ruk klim die rowers terug in ’n voertuig wat in die middel van die pad staan en ry weg.

Luidens ’n verklaring van die Ekurhuleni-nooddienste is die bestuurder van die geldwa met skietwonde agter die stuurwiel aangetref. Hy is in die kop geskiet.

Die man is per helikopter na die Netcare Union-hospitaal in Alberton geneem, waar hy in ’n kritieke toestand is.

’n Skermgreep van ’n video wat die rowers op die toneel wys.
’n Lugfoto van die toneel waar die rowers op die geldwa toegeslaan het.

Luidens ’n verklaring deur die polisie is die bestuurder se twee kollegas wat ook in die geldwa was, ongedeerd.

“Die wagte is van hul vuurwapens beroof, maar geen geld is geneem nie,” sê die polisie.

Die deel van die N3 waar die rooftog plaasgevind het, is Donderdag tydelik vir verkeer gesluit.

Die polisie het ’n 72-uur-plan van stapel gestuur om alle rolspelers en hulpbronne moontlik in te span om die rowers op te spoor.

Fidelity ADT het nie Donderdag op navrae gereageer nie.

Craig Sacke van Isec Security, wat dienste in die gebied lewer waar die transitorooftog plaasgevind het, sê volgens die video lyk dit asof die rowers weermag- of soortgelyke opleiding gehad het.

“Die ouens lyk heeltemal te kalm in die video. Met die adrenalien wat deur die are pomp sou gewone rowers glipse gemaak het. Hierdie ouens lyk kalm, berekend en hulle weet wat hulle doen,” sê Sacke.

Hoewel wetstoepassingsowerhede die afgelope paar jaar vordering gemaak het om sindikate wat by transitorooftogte betrokke is, vas te trek, meen Sacke dit bly steeds ’n groot probleem in Gauteng.

Meer oor:  Fidelity Adt  |  Germiston  |  Oos-Rand  |  Transito-Rooftog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.