’n Tydelike sekuriteitswag is in die Diazstrand-gebied in Mosselbaai aangestel om infrastruktuur te beskerm wat opgerig is om beter toegang vir gestremdes tot die strand te bied.
“Die tydelike sekuriteitswag is aangestel om onder meer ’n oprit vir gestremdes by Tweekuilen teen vandalisme te beskerm,” sê Nickey le Roux, ’n munisipale woordvoerder van Mosselbaai, by navraag.
Volgens haar ondersoek die munisipaliteit tans ander moontlikhede, soos om beligting aan te bring, wat sal bydra om die oprit teen opportunistiese misdadigers te beskerm.
Sy sê voorts die oprit is teen ’n groot koste opgerig en onlangs eers in gebruik gestel.

Die paaltjies wat vroeër beskadig is by die De Bakke-strand. Foto: Verskaf
Vandalisme het die munisipaliteit die afgelope tyd honderdduisende rande uit die sak gejaag.
Vroeër vandeesmaand is tien paaltjies van ’n heining by die strand by De Bakke volgens die munisipaliteit “moedswillig” gebreek, ’n toilet by Santosstrand gevandaliseer, plafonne op Tweekuilen uit die dak gebreek en die ablusiegeriewe se mure by Danabaai met graffiti ontsier. Onlangs is die opgeknapte netbalbane by die Van Riebeeck-stadion beskadig kort nadat die kontrakteurs die bane voltooi het, en moet die werk (wat sowat R250 000 beloop) oorgedoen word.
In nog ’n voorval is ’n heining wat op aandrang van die gemeenskap aangebring is by die rugbyveld in Greenhaven, Groot-Brakrivier (in Mosselbaai se munisipale gebied), stuk-stuk weggedra of beskadig.