Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Wag red kollega uit koeëlreën

’n Veiligheidswag het die afgelope week te midde van ’n mini-oorlog koelkop gebly en sy kollega se lewe gered terwyl die koeëls om hulle geklap het.

Armand Hilarius (29), ’n Acsu-veiligheidswag in die Ermelo-omgewing.

Veiligheidswagte van die maatskappy Acsu het Woensdag in die vroeë oggendure in die strate van die Wesselton-township (buite Ermelo) op ’n groep afgekom terwyl hulle glo by ’n kitsbank inbreek.

Meer as 180 skote is met aanvalsgewere en pistole tussen rowers en wagte geskiet.

“Ons het omtrent so 02:45 die noodsein van Makho­khoba Algemene Handelaars gekry. Daar was die afgelope tyd baie probleme in die omgewing, niks major nie, meestal dronk ouens wat met die Pakistani-winkeleienaars skoor soek,” vertel Armand Hilarius (29, ’n sekerheidswag van Acsu.

Hy en sy kollega Jerome Nkosi (31) het by die winkel aangekom en aan die voordeur geklop.

“Ek het met my flits oorkant die pad geskyn waar daar ’n tavern is en ek sien toe mans tussen geboue wegkruip. Toe ek met my vinger na hulle wys, het die hel losgebars.”

‘Ons spanne eet elke dag saam boerekos.’

Hilarius het agter ’n voertuig weggekruip, maar kon sien Nkosi het per ongeluk in die harwar na die verkeerde kant gevlug.

“Die volgende oomblik sien ek net hoe hy val en probeer wegrol en hy skree dat hy geskiet is. Ek hardloop toe na hom toe terwyl die rowers met R5-aanvalsgewere en 9 mm-pistole op ons skiet. Toe ek by hom kom, het ek hom uit die pad gesleep na veiligheid,” sê Hilarius.

Nkosi het ’n koeëlvaste baadjie aangehad, maar ’n stukkie skrapnel het daardeur gekom.

“Hy is vier keer raakgeskiet – op sy gordel, sy koeëlvaste baadjie, sy holster en toe die een wat deurgekom het.”

Hilarius sê tussen hom en Nkosi het hulle omtrent 80 skote afgevuur.

“Ek het ’n 9 mm-pistool gehad en hy ’n LM5, wat soos ’n R5 is. Die rowers het omtrent 100 skote op ons geskiet. Tien van dié skote het ons voertuig getref.”

Jerome Nkosi (31)

Hilarius was in die motorbedryf werksaam voor hy ’n jaar en ’n maand gelede die veiligheidsbedryf betree het.

Hy lag net verleë oor Woensdag se gebeure. “Ek het niks spesiaals gedoen nie, net my werk. En Jerome sou dieselfde vir my gedoen het.”

Rapport kon nie daarin slaag om met Nkosi te praat nie. Hy is die afgelope Donderdag na sy familie toe in die landelike KwaZulu-Natal om aan te sterk.

Oubaas de Jager (67), die eienaar van Acsu, is vol lof vir sy werknemers.

“Ons spanne eet elke dag saam boerekos. Hier is ’n gees van familie onder ons. Dis ongelooflik hoe Armand sy lewe op die spel geplaas het om Jerome te red.”

Brig. Leonard Hlati het die skietery bevestig. Hy sê geen inhegtenisnemings is nog gemaak nie.

“Mense wat inligting oor die voorval het, moet asseblief hul naaste polisiekantoor kontak.”

Meer oor:  Ermelo  |  Veiligheidswagte  |  Redding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.