Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Wag skiet pendelaar dood ná aanval op Prasa-werknemer

’n Treinpendelaar wat glo sonder ’n treinkaartjie gereis het en toe ’n Prasa-werknemer met ’n mes gesteek het, is Maandag by die Heideveld-stasie in Kaapstad deur ’n veiligheidswag van Prasa doodgeskiet.

Metrorail en die Wes-Kaapse polisie ondersoek die voorval.

Metrorail sê daar was ’n messtekery en daaropvolgende skietery by die Heideveld-stasie, maar wou nie verder uitwei nie.

“Metrorail neem die wetlike prosedure in ag, asook die regte van die betrokke partye. Ons beklemtoon dat ons geen verdraagsaamheid het teenoor enige misdadigheid op die spoorwegnetwerk nie,” sê Riana Scott, Metrorail-woordvoerder.

Scott sê daar sal eers op optrede besluit kan word ná die uitslag van die ondersoeke.

Ons beklemtoon dat ons geen verdraagsaamheid het teenoor enige misdadigheid op die spoorwegnetwerk nie

Die polisie doen ’n geregtelike doodsondersoek nadat die lyk van ’n onbekende man Maandag omstreeks 06:55 by die Heideveld-stasie gevind is.

Siyabulela Malo, polisiewoordvoerder, sê Prasa-personeellede het aan lede van die Manenberg-polisie gesê verskeie pendelaars van Khayelitsha het sonder treinkaartjies gereis. Terwyl die trein by die Heideveld-stasie ingetrek het, waar die pendelaars kaartjies sou moes koop, het hulle van die trein gespring en laat spaander.

“Tydens die oproerigheid is ’n vroulike Prasa-lid deur ’n pendelaar wat probeer wegkom het, gesteek. Sy is vir mediese behandeling na ’n hospitaal gehaas.”

Volgens die polisie het van die pendelaars tydens die kaartjiedrama glo ook ander veiligheidswagte aangeval en met klippe bestook.

“Die geskarrel het tot ’n skietvoorval gelei waartydens ’n vermeende treinpendelaar geskiet en dodelik gewond is. Die slagoffer het op die toneel aan sy wonde beswyk.”

Mense met inligting word versoek om die Manenberg- polisie by 021 699 9400 te kontak of die polisie se stopmisdaadnommer by 08600 10111 te skakel.

Meer oor:  Polisie  |  Metrorail  |  Prasa  |  Riana Scott  |  Siyabulela Malo  |  Kaapstad  |  Wes-Kaap  |  Messteek  |  Pendelaar  |  Skiet  |  Doodgeskiet  |  Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.