’n Veiligheidswag van Mahikeng is Woensdag deur die Valke in Noordwes in hegtenis geneem weens ’n transitorooftog bykans presies ’n jaar gelede waarin twee lede van die Valke doodgeskiet is.
Thuso Tshepo Lobelo (31), wat as veiligheidswag by die G4S-veiligheidsmaatskappy in Mahikeng werk, is Woensdag in hegtenis geneem.
Kapt. Tlangelani Rikhotso, woordvoerder van die Valke in Noordwes, sê Lobelo het Woensdag vlugtig in die streekhof in Mahikeng verskyn. Hy is die negende man wat in hegtenis geneem is ná die transitorooftog op 5 Maart verlede jaar in die Itsoseng-township tussen Mahikeng en Lichtenburg in Noordwes.

Ao. Wynand Herbst (41) van die Valke in Noordwes is verlede jaar doodgeskiet.
Ao. Delene Grobler-Koonin (43) en ao. Wynand Herbst (41), albei van die Valke in Noordwes, is dié dag doodgeskiet.
’n Swaar gewapende bende het ’n geldwa van die pad gedwing, daarop geskiet en plofstof gebruik om die voertuig oop te blaas sodat hulle by die kluis kon uitkom.
’n Oor-en-weer-skietery het tussen die rowers en die polisie uitgebreek. Grobler-Koonin is in die skietery gewond en is aan haar beserings dood.
Die gewapende mans kon nie die geld uit die kluis kry nie en het gevlug. ’n Reuse-polisiesoektog is van stapel gestuur.
Rikhotso sê die polisie het later dieselfde dag van die rowers in Coligny aangekeer. ’n Oor-en-weer-skietery het ook hier uitgebreek en Herbst is geskiet. Hy is later in ’n hospitaal aan sy beserings dood.
Die polisie het drie van die gewapende mans doodgeskiet en twee van hul makkers in hegtenis geneem.
Die soektog na die res van die bende rowers is voortgesit en agt mans is sedertdien in hegtenis geneem.

Ao. Delene Grobler-Koonin (43) links, en haar vrou, dr. Marla Koonin, by hul seun, Jake.
Solomon Ngubeni (47), Jabulani Yika (38), Musa Mkhavela (33), Terefe Demmissie (39), Edgar Marule (47), Simphiwe Msibi (24), Jabulane Sibisi (53) en Danny Mafora (39) is sedertdien van moord, poging tot moord, die besit van onwettige vuurwapens sowel as ammunisie, die besit van plofstof en opsetlike saakbeskadiging aangekla.
Lobelo sal op 12 April saam met die agt mans in die hooggeregshof in Mahikeng verskyn wanneer hul verhoor na verwagting sal begin.
Bheki Cele, minister van polisie, het in September in Pretoria aan Grobler-Koonin en Herbst hulde gebring op die polisie se jaarlikse herdenkingsdiens vir lede wat dood is terwyl hulle hul pligte uitgevoer het.