Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Wagte vlug voor koeëls in Kempton Park

Twee veiligheidsmaatskappye aan die Oos-Rand was Maandagaand die teiken van gewapende aanvallers.

Die verdagtes het nie geskroom om op die patrollievoertuig los te brand nie. Terwyl die veiligheidswag van Alpha-sekuriteit in trurat gevlug het, het ’n koeël deur die voorruit gespat en hom naelskraaps gemis. Foto: Verskaf
Die veiligheidswag het koelkop gebly terwyl die koeëls om hom gevlieg het. Só lyk die venster van die Alpha-patrollievoertuig ná die skietery. Foto: Verskaf

In een van twee voorvalle in Glen Marais, Kempton Park. is ’n veiligheidswag in die been gewond toe hy van ’n groep van vier mans gevlug het. Die aanval was skaars tien minute nadat nog ’n veiligheidswag vir die koeëls gevlug het.

Die verdagtes wou glo ’n derde veiligheidswag ook skiet, wat uit vrees agter ’n boom geskuil het.

Om 23:10 het ’n wit Audi met vier insittendes voor een van Hannes Volschenk, bedryfsbestuurder by Alpha-sekuriteit, se patrollievoertuie ingery en die motor tot stilstand gedwing.

“Die man in die voorste passasiersitplek het uitgeklim en op ons voertuig begin skiet. Ons wag het die voertuig in trurat gesit en gevlug. Hy kon sonder beserings wegkom, maar die verdagtes het sy agterwiel stukkend geskiet,” sê Volschenk.

Die voorval het in Eersteweg gebeur en weens die pap band het die patrollievoertuig in Witstinkhoutstraat gaan staan.

Die veiligheidswag het die skietery op Alpha se radiostelsel aangemeld en nog ’n veiligheidswag is na die toneel ontbied.

Die tweede veiligheidswag het sy patrollievoertuig geparkeer, uitgespring en agter ’n boom weggekruip toe hy dieselfde verdagte voertuig sien aankom.

Volgens Volschenk, het die verdagtes afgetrek en ’n flitslig in die tweede veiligheidswag se voertuig geskyn.

“Toe hulle sien hy is nie in die voertuig nie, het hulle weggery.”

Ongeveer 10 minute later het ’n soortgelyke toneel hom in Simstraat afgespeel. Die keer was dit glo vier verdagtes in ’n wit Mercedes Benz en ’n veiligheidswag van Himax-sekuriteit wat die teiken was.

Rupert Storm, bestuurder van Himax se Gauteng-tak, sê die wit voertuig het voor sy veiligheidswag ingery.

“Die persoon in die voorste passasiersitplek het sy arm by die venster uitgesteek en ’n geweer, vermoedelik ’n AK47, in ons voertuig se rigting gewys. Die man in die agtersitplek het uitgeklim en vir ons veiligheidswag gesê hy moet uit die motor klim,” sê Storm.

Nes die Alpha-veiligheidswag het hy die voertuig in trurat gesit toe die verdagtes op hom losbrand. ’n Koeël het hom in die been getref, maar hy het aanhou ry.

Storm sê die veiligheidswag is onder verdowing in die hospitaal en sal na verwagting Woensdag geopereer word om die koeël te verwyder.

Albei voorvalle is by die polisie aangemeld

Meer oor:  Rupert Storm  |  Kempton Park  |  Skietery  |  Koeëls  |  Veiligheidswag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.