Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Wanneer moor hy weer?'

Hulle word gewoonlik gevrees, maar nou sê die haweloses van Muckleneuk in Pretoria ’n reeksmoordenaar  laat hulle bewe... en hy is nie een van hulle nie. Hulle moor nie.

Die reuk van die Magnoliadal-park is nou vrot van vrees nadat twee van die vyf haweloses wat sedert 25 Mei vermoor is, se lyke hier gevind is. Foto: Elizabeth Sejake

Die swart figuur het bukkend gestaan onder die Magnoliadal-teken in dié nou gevreesde donker park. Given Masekela (28), ’n hawelose van die omgewing, kan die prentjie nie uit sy kop kry nie: die groot donker figuur met ’n kappie oor sy kop en ’n rugsak op sy rug.

Masekela en een van sy vriende het twee Sondae gelede oor die brug naby die park gestap toe hulle die man sien. Hy het vir hulle geskrik en weggehardloop.

“Dit was vreemd en ons het gedink ons moet gaan kyk wat hy daar gemaak het,” het Masekela Donderdag aan Rapport vertel.

“Ons sien toe vir Uncle (ook ’n hawelose) onder die teken onder ’n kombers lê en slaap. Hy was heeltemal toegegooi. Maar toe sien ons die bloed. Eers op sy kombers en toe oral om ons. Toe ons weer sien, was daar ’n plas.

Almal is bang hulle is volgende en nou is daar baie meer mense wat daar kom slaap.

“Ons het die kombers opgelig en gesien Uncle is vol diep snye, oral op sy kop, nek en bors. Hy was stukkend. Dit het gelyk asof hy met ’n panga gekap is.”

Hy was dood.

“Toe besef ons dit was hóm wat ons gesien het. Die ou wat ook vir Rasta kom vermoor het,” sê Masekela terwyl hy in die verte tuur.

Given Masekela wil nie sy hele gesig vir die kamera wys nie. Hy beweer hy het die Muckleneuk-moordenaar gesien kort nadat hy vir Uncle, ’n hawelose man, in die Magnoliadal-park vermoor het terwyl hy geslaap het. Foto: Elizabeth Sejake

Die reuk van muf, urien, droë bloed . . . gekapte vleis en vrees tref jou neus. Die soet reuk van magnolias is weg.

Rasta, die “mal alleenloper”, se lyk is net die vorige dag gekry onder ’n boom sowat 25 m vanaf die plek waar Uncle dood is. Hy was die nou berugte Muckleneuk-moordenaar se tweede slagoffer. Uncle was sy derde.

’n Vierde lyk is Dinsdag op die hoek van Justice Mahomed- en Troyestraat in Sunnyside gekry.

’n Vyfde slagoffer is Woensdag by die bushalte naby die Unisa-kampus in die Muckleneuk-omgewing vermoor.

Hier het die “mal hawelose” Rasta se laaste ure aangebreek toe hy in sy slaap oorval en vermoor is. Hy het altyd kartonne bymekaargemaak en was volgens die ander ’n alleenloper en maklike slagoffer. Foto: Elizabeth Sejake

Die heel eerste lyk is op 25 Mei by die Mearsstraat-treinstasie in Muckleneuk gekry.

Een van die slagoffers het geld en ’n selfoon by hom gehad. Dit is nie gevat nie . . .

“Hoekom doen hy dit?” vra Masekela. Dan dink hy ’n bietjie. Teug aan sy sigaret. Kyk om hom rond. “En toe sien ek hom weer,” sê hy eers huiwerig. “Dié week. Ek het net te laat besef dit was hy,” sê hy en skud sy kop.

Hy kan nie presies onthou of dit Dinsdag- of Woensdagaand was nie. Hy slaap in die aande by die White House, ’n skuiling vir haweloses in Sunnyside.

“Almal is bang hulle is volgende en nou is daar baie meer mense wat daar kom slaap. Van hulle het buite saam gelê en ons het ’n ou gesien wat so ’n ent weg rondhang. Hy was dronk en het moeilikheid gesoek en ons het vir hom gesê om die pad te vat. Hy het toe so op die hoek van die straat gestaan en ons uitgekyk en ’n ruk later was hy net weg.

Die hawelose Thabo Ndala(21) stoot sy trollie ver
Die hawelose Thabo Ndala (21) stoot sy trollie verby die bushalte naby Unisa waar die lyk van nog ’n hawelose Woensdagoggend gevind is. Foto: Felix Dlangaman

“Iets het my gepla en toe besef ek maar dié figuur lyk bekend. En toe besef ek hy lyk nes die een wat ek in die park gesien het. Ook met die kappie op sodat jy nie sy gesig kan sien nie, ook met die rugsak op sy rug. Hy het sterk gelyk. Ons het hom gaan soek, maar hy was weg.”

Brig. Mathapelo Peters van die polisie sê hulle doen alles in hul vermoë om die moorde so gou moontlik op te los.

Daar is nog geen verdagtes nie en ’n spesiale taakmag is op die been gebring.

Hoewel talle haweloses beweer daar is meer mense dood, het sy ook gister bevestig dat die polisie nog net vyf lyke gevind het.

Volgens ’n polisiebron is hul grootste uitdaging dat hulle werk met mense wat nie ’n geregistreerde identiteit of familie het nie. “Gewoonlik is die skuldiges aan ’n moord iemand ná aan die slagoffer, maar in die geval het ons geen gegewens nie.”

Mogau Helone Malebye (30), wat dokumentêre films vir Pretoria Street Photography vervaardig, bly sedert 1994 in Sunnyside. Hy het grootgeword saam met die haweloses en dikwels saam met hulle sokker gespeel. Hy is bekommerd, want een van die ouens wat hy gereeld gesien het, is nou ook net weg.

“Ek is bang hy is ook aangeval. Mense sien hierdie mense as sleg en gevaarlik en hoewel baie van hulle misdadigers is, is hulle nie moordenaars nie,” sê Malebye.

Nou het alles verander en die gevreesdes is nou dié wat vrees.

Volgens Shadrack Mahlangu (37) van die Coffee House, ook ’n skuiling vir haweloses in Sunnyside, het hulle gewoonlik sowat 60 mense per aand gehuisves. “Maar van dié week af het ons gemiddeld 150 mense per aand,” sê Mahlangu.

“Almal is bang. Ons ook. Ons weet van nog twee ouens wat ook aangeval is en oorleef het. Die een ou (’n bruin man wat China of Bushy genoem word) het ’n klomp steke aan sy bors en nek en hy het diep snye aan sy gesig.”

Volgens Malebye loop daar baie stories, maar hy hoor dié twee ouens het oorleef omdat hulle teruggeveg het. Dit klink of die vermeende moordenaar probeer om sy slagoffers onkant te vang terwyl hulle slaap of nadat hulle “uitgepass het ná ’n dwelm-fix”.

“En dan kap hy na hul koppe met ’n skerp metaalvoorwerp, en eers wanneer hulle bewusteloos is, steek en kap hy ook die res van hul lyf. Die wat weggekom het, het glo terugbaklei en ander haweloses het nadergehardloop en die ou het weggehardloop.”

Dr. Gérard Labuschagne, ’n voormalige hoof van die polisie se ondersoekgerigte sielkunde-eenheid, glo dis die werk van ’n reeksmoordenaar.

“Ek is nie betrokke by die ondersoek nie en het ook nie die moordtonele of lyke gesien nie. Daar is baie opsies en tans is die motief nog onduidelik. Dit kan wraak wees, soos wat baie van die haweloses vermoed. Geen moordenaar sal ooit iemand vermoor van wie hulle hou nie,” sê hy.

Hy reken die ou wil seker maak hy pleeg suksesvolle moorde. “In al die gevalle sover het hy gewag tot dit donker is en dat die mense aan die slaap is voordat hy toeslaan. Hy wil seker maak hulle kan nie terugbaklei nie. Dis moeilik om te voorspel wat volgende gaan gebeur.

“Ek was al by sake betrokke waar reeksmoordenaars net verdwyn wanneer dit te gevaarlik raak en die moorde te veel aandag kry. Party sal weer toeslaan wanneer die stof gaan lê. Soms verskuif hulle net na ’n ander gebied,” sê Labuschagne.

En terwyl die polisie in ’n wedloop teen tyd gewikkel is, leef Masekela en sy hawelose “kollegas” in vrees. Hulle wonder waar die nagwandelaar is wat die soet reuk van die Magnolias kom steel het. Bedags werk hulle vinnig om iets bymekaar te skraap om te eet en snags slaap hulle saam of maak beurte om wag te hou.

Hulle glo nie hy is een van “hulle” nie en die ding wat hulle die meeste pla, is: “Wat soek die ou? Wat het ons aan hom gedoen? En wanneer kom hy weer?

“Hy kan niks by ons steel nie. Net ons lewens,” sê Masekela en kyk weer om hom rond.suzanne.venter@rapport.co.za

Meer oor:  Pretoria  |  Moord  |  Hawelose  |  Moord Op Haweloses
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.