Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Wapens in verrassende plek in motor gevind

Die blinkrooi tweedehandse motor het ’n moontlike koper genoegsaam beïndruk dat die persoon dit Vrydag wou toetsbestuur.

Toe die voornemende koper en die verkoopspersoon by ’n motorhandelaar in Sinoville, Pretoria, ewe wetsgehoorsaam hul veiligheidsgordels probeer vasmaak voordat hulle die straat inry, het dit egter steeks vasgehaak.

Intussen het lede van die Sinoville-polisie inligting opgevolg van ’n gesteelde motor waarin daar moontlik wapens versteek is en by die handelaar opgedaag.

Toe die kantpanele tussen die voor- en agterdeure van die Mazda CX3, vanwaar die veiligheidsgordels moet uittrek, oopgebreek word, lê twee pistole aan elke kant, netjies soos legkaartstukke, gepak – met ammunisie.

Die vier pistole en ammunisie wat in die sitplekgordelpanele van ’n voorheen gesteelde Mazda CX3 gevind is. Foto: Verskaf

Ao. Johan van Dyk, polisiewoordvoerder, sê ao. Riaan Kruger en sers. Piet Ferreira het net na 10:00 by die handelaar, wat deel is van ’n bekende motorhandelsmerk, aangekom nadat inligting ontvang is van vier wapens wat hier in ’n motor op die verkoopsvloer versteek is.

“Die rooi Mazda CX3 is geïdenitifiseer en deurgesoek, waarop die wapens, waarvan met elkeen se reeksnommer gepeuter is, in die veiligheidsgordelpaneel van die voorste sitplekke gevind is.

“Verdere ondersoekwerk het gevind die voertuig is verlede jaar in Tshakane in die Johannesburg-omgewing gesteel en later teruggevind.

“Vier verdagtes is destyds in verband met die motordiefstal in hegtenis geneem,” het Van Dyk gesê.

Hierna het die polisie die normale prosedure gevolg waar die voertuig na die polisieskut geneem en die regmatige eienaar ingelig is dat sy motor gekry is.

In so ’n geval, waar daar nie ’n rede bestaan om meer skade aan ’n kar as deel van ’n ondersoek aan te rig nie, het die polisie gesê, sou die voertuig wel deurgesoek word, maar hulle sou nie onnodig panele binne die voertuig oopbreek nie.

Die eienaar wou egter nie meer die voertuig hê nie en dit is later op ’n veiling aan die motorhandelaar in Sinoville verkoop.

Sers Piet Ferreira en ao. Riaan Kruger van die Sinoville-polisiestasie by die rooi Mazda CX3 waarin die wapens versteek is. Foto: Verskaf

Skoon gewas en gepoleer het dit toe op die verkoopsvloer gewag vir ’n nuwe eienaar, die versteekte wapens steeds ’n geheim, tot Vrydag.

“Ons gaan ondersoek wanneer die wapens in die voertuig versteek is en of dit gedoen is met die oog om ander misdade met die (destydse) gesteelde kar uit te voer.

“Ballistiese en forensiese toetse sal ook bepaal of die wapens voorheen in ander misdade gebruik is en of dit met die vermeende motordiewe verbind kan word wat kort ná die diefstal in hegtenis geneem is.

“Terwyl daar nie vroeër, toe die voertuig gevind is, ’n rede was om dit te stroop nie, gaan dit nou gedoen word,” het Van Dyk gesê.

Lt.kol. Alet Pratt, waarnemende stasiebevelvoerder van die Sinoville-polisie, het die twee speurders geloof vir hul goeie werk en die gemeenskap verseker dat geen steen onaangeroer sal bly in die ondersoek na die voorval nie.

Meer oor:  Pretoria  |  Wapen  |  Tweedehandse Motor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.