Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vrese dat weermag te sterk kan optree

Talle individue en organisasies is bekommerd oor die veiligheid van onskuldige burgers nadat die weermag in sekere bendegeteisterde gebiede ontplooi is.

“Die weermag se mandaat is nie noodwendig gemeenskapsveiligheid, misdaadbestryding en georganiseerdemisdaad-intelligensie nie,” sê Henriette Abrahams, ’n gemeenskapsaktivis van Bonteheuwel en een van die organiseerders van die Total Shutdown-veldtog teen bendegeweld.

“Ek hoop en bid dat die weermag ’n ondersteunende rol speel aan die polisie, en dat almal wat betrokke is ons mense se menseregte beskerm en ons mense steeds met die nodige waardigheid en respek behandel.

’n Hercules C130 land op die Ysterplaat-lugmagbasis in Kaapstad met die tweede groep soldate van 8 Suid-Afrikaanse Infanteriebataljon van Upington. Foto: Jaco Marais

“Bendegeweld en dwelmverslawing is die gevolg van armoede en ongelykheid. Hoewel die weermag nou ’n ondersteunende rol sal speel, moet alle sfere van die regering hulpbronne toewys om hierdie kwessies te hanteer op ons geliefde Kaapse Vlakte.

“Ontplooiing van die weermag militariseer ’n probleem wat op ’n maatskaplik-ekonomiese vlak opgelos kan word.”

Dalli Weyers, hoof van beleid by die Social Justice Coalition (SJC), sê die ontplooiing van die weermag in ’n onstabiele omgewing kan dalk veiligheidsrisiko’s meebring.

“Kyk byvoorbeeld na die voorval waar lede van die polisie se bende-eenheid in Samora Machel geskiet is. As iets soortgelyks moet gebeur met die soldate sal hulle dalk meer aggressief optree.”

Weyers meen die weermag is nie doeltreffend opgelei om in gemeenskappe en woonbuurte te werk nie.

Weyers sê die SJC glo die polisie moet eerder hul plasingsbeleide herevalueer. Volgens hom is daar baie minder polisielede ontplooi in swart, arm woonbuurte.

“Die feit dat die weermag in sekere areas ontplooi moet word, dui daarop dat die polisie nie hul mandaat reg uitgevoer het in dié omgewings nie. Hulle moes dus hulp inroep.

“Ons wil seker wees dat die kommunikasiekanale na die weermag en die polisie steeds oop sal wees, gegewe dat die polisie in die verlede op die terrein oneffektief was. Die leierskap van die weermag moet meer effektief wees om aanspreeklik gehou te word,” sê Weyers.

Die Grassy Park-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het die nuus van die ontplooiing van die weermag verwelkom.

“Bendes het onbeheerbaar geword. Te veel kinders het reeds gesterf as gevolg van bendegeweld. ’n Man is gisteraand in Lotusrivier doodgeskiet en dit het skaars die nuus gehaal,” lui die verklaring.

Die GPF sê bendes het ’n manier om te migreer na waar dit makliker is om weg te kruip terwyl die veiligheidsmagte op sekere gebiede konsentreer.

“Moenie aan hulle die geleentheid gee nie. Laat die bendelede weet dat hulle kan hardloop, maar dat hulle nie wegkruipplek sal kry nie.

“Die GPF doen ’n beroep op wetsgehoorsame burgers om geduldig te wees aangesien dit nodig mag wees om hul deure oop te maak en padblokkades te verduur.

“Dit is maar ’n klein prys om te betaal om ons gemeenskappe veiliger te maak en ’n beter toekoms vir ons kinders te verseker.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.