Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Weermag hou planne dig oor ontplooiing in Kaap

Die aantal troepe wat in die Wes-Kaap vir misdaadbestryding ontplooi word en waar hulle vandaan kom, is Vrydag deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) in geheimhouding gehul.

’n Groot aantal polisielede is Vrydagoggend al in dele van die Kaapse Vlakte ontplooi en soldate van verskillende dele van die land af het teen die middag in Kaapstad opgedaag.

Rondom 500 troepe sou glo teen die middag aankom.

Die SANW het bevestig dat ’n bataljon van sy soldate as deel van Operasie Prosper in die provinsie ontplooi word om die polisie by te staan, nadat Bheki Cele, minister van polisie, Donderdag dié stap aangekondig het.

Die eerste personeel van 8 Suid-Afrikaanse Infanterie-bataljon (8 SAI) uit Upington in die Noord-Kaap daag Vrydag ná ’n vlug op in Kaapstad. Foto: Jaco Marais
'n C130 Hercules-vlietuig van die Suid-Afrikaanse Lugmag land op die Ysterplaat-lugmagbasis in Kaapstad, met die tweede groep soldate van die Suid-Afrikaanse Infanteriebataljon, uit Upington. Twee geweerkompanies en 'n hoofkwartier van dié eenheid is ingeroep om die polisie te ondersteun op die Kaapse Vlakte. Foto: Jaco Marais

Brig.genl Mafi Mgobozi, die SANW se direkteur van kommunikasie, het Vrydagmiddag gesê weens “vanselfsprekende veiligheids- en intelligensieoorwegings” kan hy nie “sensitiewe vrae” beantwoord nie, soos hoeveel mense en voertuie ontplooi word, wanneer en waar hulle ontplooi word en die tipe toerusting wat gebruik word.

Lede van die SANW sal van Julie tot Oktober ontplooi word en dié tydperk kan verleng word indien nodig.

Die departement van verdediging het in ’n verklaring daarop gewys ingevolge die Grondwet kan slegs die president die ontplooiing van die weermag goedkeur, in samewerking met die polisie, ter verdediging van die land en die nakoming van internasionale verpligtinge.

“Neem kennis dat die SANW by tye ontbied word om die polisie met misdaadvoorkoming by te staan. Dit word uitgevoer in ooreenstemming met die regering se doelwit om seker te maak dat alle Suid-Afrikaners veilig is en so voel.”

Mgobozi sê die 2 Militêre Hospitaal in Wynberg sal teen volle kapasiteit werk en indien daar behandelings is wat nie in die hospitaal gelewer kan word nie, sal die gewone prosedure met verwysings gevolg word.

Die meeste van die soldate wat ontplooi gaan word, kom van die weermagbasis in Upington, berig Maygene de Wee.

’n Polisievoertuig staan Vrydagoggend in die pad in Philippi, Kaapstad, toe ’n groot aantal polisielede ontplooi is ná ’n aankondiging van Bheki Cele, minister van polisie, die vorige middag. Foto: Jaco Marais

Mgobozi het gerugte weerlê dat die weermag ingespan gaan word om te help met polisiëring en sê dat hulle eerder saam met die polisie gaan werk. “Soldate is nie daarvoor opgelei nie.”

In gevalle waar polisielede klopjagte uitvoer en persele en mense deursoek, sal soldate die gebiede afkordon om seker te maak dat die polisie hulle werk sonder enige inmenging doen.

“Ons is nie onder polisiebevel nie en die polisie ook nie onder ons bevel nie. Ons gaan wel saamwerk en die verskillende bevelvoerders sal deurgaans in gesprek wees om te besluit hoe situasies hanteer sal word.”

’n Soldaat kan slegs instruksies van ’n weermagbevelvoerder neem en dieselfde geld die polisie.

Volgens Mgobozi sal die weermag altyd poog om die minimum geweld te gebruik.

Twee polisielede Vrydagoggend in Philippi, Kaapstad, waar ’n groot aantal polisielede vir Operasie Prosper ontplooi is. Foto: Jaco Marais

Hy sê die weermag wil nie hê dat die gemeenskappe van die Kaapse Vlakte nog verdere trauma beleef nie en later sê dat hulle ook tot die bloedbad op die Kaapse Vlakte bygedra het nie.

Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid, het Vrydag ook bevestig dat interministeriële samewerking deur die provinsiale regering ingestel gaan word om die deel van inligting te vergemaklik en die uitrol van maatskaplike programme by elke polisiekantoor wat onder bendebedrywighede gebuk gaan.

“Dié programme sal werkskepping aanmoedig, weens die toename in skoolprogramme, sport- en kultuurprogramme, jeugontwikkeling en gemeenskapsprogramme. Die doel is om te help met die stabilisering van gemeenskappe wat die meeste onder bendegeweld en misdaad ly. Die talle goeie mense van ons provinsie kan nie langer deur die minderheid geterroriseer word nie.”

Lede van 8 SAI by Upington op pad na ’n Lockheed C-130 Hercules-vliegtuig om die troepe van die Noord-Kaap na die Wes-Kaap te vlieg waar hulle gaan help om bendegeweld te bekamp.

Intussen het die voorsitters van die portefeuljekomitees oor die polisie en verdediging en militêre veterane in die parlement die ontplooiing van troepe op die Kaapse Vlakte verwelkom.

Cyril Xaba, voorsitter van die komitee oor verdediging, en Tina Joemat-Pettersson, voorsitter van die komitee oor polisie, sê in ’n verklaring hulle glo dié samewerking tussen die SANW en die polisie kan ’n groot bydrae lewer om die uitdaging van geweld te help oplos.

“Gemeenskapslede in plekke soos Bonteheuwel, Mitchells Plain, Philippi en Hanover Park, onder meer, is gemartel en leef vir te lank in vrees. In baie gevalle kan kinders nie skoolgaan nie en in te veel gevalle is onskuldige mense in die kruisvuur van bendes dood.”

Joemat-Pettersson sê sy verwag die president sal die parlement oor die ontplooiing in kennis stel, soos deur die Grondwet vereis.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid in Kaapstad, het die oggend ook die besluit verwelkom om die polisiekantore op die Kaapse Vlakte te help stabiliseer.

LEES MEER: FOTO’S: Polisie toon hul staal op Vlakte ná Cele se aankondiging

Bheki Cele, minister van polisie. Foto: Dirco

“Die misdaadsyfer in dié gemeenskappe het regtig die punt van ’n noodtoestand bereik en dit bedreig die stabiliteit en reputasie van die stad in die geheel.”

Smith meen egter dat die ontplooiing net ’n tydelike oplossing is sodat vrede in dié gemeenskappe bewerkstellig kan word.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het Cele se aankondiging verwelkom en beklemtoon dat 55 sterftes weens skiet- en steekwonde die afgelope naweek in die provinsie aangemeld is, waarvan 33 in die Kaapstad-metro.

“Die huidige toestand is ongekend en ons moet ongekende stappe doen om seker te maak dat mense veilig is.”

Cele het Donderdag gesê hy en Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, en medevoorsitters van die ministers in die veiligheidsgroepering het ná die 13 moorde in Philippi die afgelope naweek besluit dat daar iets aan die Kaapse Vlakte gedoen moet word.

Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid. Foto: Peter Abrahams/Son

Onder die 13 slagoffers was ses jong vroue wat Vrydagaand doodgeskiet is.

Een van die slagoffers se ma, Ernes Anderson, het aan GroundUp gesê haar dogter, Siya (20), en vyf vriendinne is in hul erf doodgeskiet in wat soos beplande teregstellings gelyk het.

“Ek kon die skote tot by die kerk hoor, maar niemand het aandag daaraan gegee totdat ’n jong seun my kom roep het nie. Ek het voor die polisie by die huis aangekom en my dogter in ’n plas bloed saam met haar vriendin gekry. Ek het gehuil terwyl hulle haar toegegooi het.”

Cele het in sy aankondiging gesê swaargewapende polisielede en soldate gaan in ’n grootskaalse ingrypingsoperasie gebiede op die Kaapse Vlakte terselfdertyd “afkordon”.

Hy het toe aangedui dat hulle na gemeenskapspolisiëringsforums op die Kaapse Vlakte se eise en “nie na politici” geluister het nie.

Meer oor:  Albert Fritz  |  Bheki Cele  |  Bendes  |  Misdaad  |  Weermag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.