Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Weermag in Kaap: ‘Meer kan gedoen word’

Die Wes-Kaapse regering verwelkom pres. Cyril Ramaphosa se besluit om die weermag se ontplooiing op die Kaapse Vlakte te verleng, maar sê meer kan gedoen word om ’n daadwerklike verskil te maak.

Ramaphosa het Maandag die weermag se ontplooiing in die gebied tot 31 Maart 2020 verleng. Operasie Lockdown sou Maandag tot ’n einde gekom het nadat hulle op 15 Julie begin diens doen het in woonbuurte op die Kaapse Vlakte wat onder bendegeweld gebuk gaan.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier. Foto: Malherbe Nienaber

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het die verlenging aangevra op voorwaarde dat daar voldoen word aan sekere voorwaardes.

Winde het onder meer gevra dat die ontplooiing van die weermag gemonitor moet word.

Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, sê dit is belangrik om vas te stel presies hoe suksesvol die weermag se betrokkenheid in die gebied was.

Winde en Fritz sê die Wes-Kaapse regering het weinig inligting oor die kwessie ontvang.

Hulle het derhalwe ’n beroep gedoen op meer deursigtige kommunikasie en ook beter samewerking tussen die weermag en ander rolspelers soos die polisie, nasionale vervolgingsgesag en die gemeenskap.

“Die hele strafregstelsel moet bereid wees om saam te werk, so nie sal ons nie die situasie binne die volgende ses maande kan stabiliseer nie,” sê Winde en Fritz.

Volgens Fritz is daar nie beduidend minder moorde vergeleke met die tyd vóór die weermag se teenwoordigheid op die Vlakte nie.

Sedert 15 Julie tot 8 September is 682 moorde in die provinsie aangemeld, sê Fritz. Dit is ’n gemiddeld van 12 moorde per dag vir die 55 dae.

Hy sê wel beduidend meer gesoekte persone is in hegtenis geneem.

Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid. Foto: Peter Abrahams/SON

Sedert verlede Donderdag tot en met die afgelope naweek is 395 mense in hegtenis geneem op onder meer aanklagte wat verband hou met die onwettige besit van dwelms, vuurwapens en alkohol. Altesaam 191 was verdagtes wat gesoek is deur die polisie.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, sê dit sal moeilik wees om vas te stel of die misdaad meer sou gedy het as die weermag nie daar was nie.

Hy meen ook die weermag se teenwoordigheid vergoed vir die sowat 4 500 polisielede wat die provinsie die afgelope vier jaar verloor het.

Smith het ’n beroep gedoen dat die weermag se ontplooiingstrategie hersien word sodat die weermag eerder onafhanklik van die polisie werk en sodoende verseker dat niemand deur die net van Operasie Lockdown kan glip nie.

Meer oor:  Weermag  |  Kaapse Vlakte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.