Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Weermag ‘weens misdaad, nie betoging’ in Dunoon ontplooi
Lede van die weermag is Maandag in Dunoon in Kaapstad ontplooi. Foto: Jaco Marais

Die weermag is nie in Dunoon, Kaapstad, ontplooi weens die voortslepende betogings in die gebied nie, maar om te fokus op misdaad, sê die polisie.

Die weermag het misdaad, soos ongelisensieerde vuurwapens en dwelms, veral by die taxistaanplek, in sy visier. Die gesamentlike operasie fokus op Table View en Dunoon, het kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, Dinsdagmiddag by navraag gesê.

Nog die polisie, nog die weermag, het egter geantwoord op ’n vraag wie die opdrag gegee het aangesien Dunoon nié een van die tien gebiede is wat Bheki Cele, minister van polisie, geïdentifiseer het toe hy vroeër vanjaar in die parlement aangekondig het dat die weermag die polisie op die Kaapse Vlakte gaan bystaan nie.

Die betogers is uiteen nadat die weermag Dinsdagoggend vroeg in die gebied ontplooi is. Die strate in die gebied is intussen oopgestel.

Dunoon en Joe Slovopark in Milnerton loop sedert verlede week onder gewelddadige betogings deur te midde van ’n geskil tussen die plaaslike taxivereniging en die stadsowerhede oor bedryfspermitte in die gebied.

Leerlinge was Dinsdag tydens skooltyd in die strate nadat sewe skole in die gebied weens die betogings nie vir die vierde kwartaal kon heropen nie. Foto: Jaco Marais

Die Dunoon-taxivereniging eis dat die Kaapstadse metroraad bedryfspermitte aan hulle toestaan vir roetes wat deur MyCiti-busse bedien word, asook vir roetes wat nie deur MyCiti-busse bedien word nie.

Betogers het die MyCiti-bushalte in Dunoon verlede week aan die brand gesteek.

Twee vragmotors is Vrydag aan die brand gesteek en motoriste is met klippe bestook. In die jongste voorval is ’n vragmotor Maandag op die hoek van Potsdam- en Stableweg aan die brand gesteek.

Die geweld het daartoe gelei dat strate gesluit is, wat tot groot verkeersontwrigting gelei het.

Van Wyk sê die gesamentlike operasie het reeds Maandagaand in die gebied begin en is Dinsdagoggend voortgesit. ’n 31-jarige buitelander is Dinsdag in Dunoon in hegtenis geneem weens die onwettige besit van dagga.

“Die man, wat ook ’n haarsalon in die gebied besit, het verdag opgetree toe polisievoertuie hom nader. Die man en sy salon is deursoek en dagga met ’n geraamde waarde van R10 000, asook ’n onbekende bedrag kontant, is gevind.”

Die man sal binnekort in die landdroshof in Kaapstad verskyn op aanklagte van dwelmhandel, sê Van Wyk.

Mense word Dinsdag in Dunoon deursoek as deel van ’n “gesamentlike teenmisdaadoperasie” deur die polisie en die weermag. Foto: Jaco Marais

Skole ontwrig

Sewe skole in die gebied is deur die onluste geraak en kon nie Dinsdag met hul verrigtinge vir die vierde kwartaal begin nie, sê Bronagh Hammond, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD).

Die WKOD is veral bekommerd oor die impak wat dit op gr. 12-leerlinge het, wat net ’n paar skooldae oor het voordat die eindeksamen begin.

Die WKOD hoop skole kan Woensdag ongehinderd heropen en doen ’n beroep op die publiek om leerlinge nie te verhinder om skool toe te gaan nie.

Meer oor:  Dunoon  |  Kaapstad  |  Misdaad  |  Betogings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.